1My seun, as jy my woorde aanvaar, my opdragte veilig by jou hou
2deur aandagtig te luister na wysheid, jou hart te rig op verstandigheid,
3ja, as jy om insig roep, hardop roep om verstandigheid,
4as jy dit nastreef soos silwer, dit soos 'n verborge skat naspeur,
5dan sal jy insig hê in ontsag vir die Here, en kennis van God sal jy vind.
6Ja, net die Here gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstandigheid.
7Vir die opregtes hou Hy vindingrykheid in bewaring, as 'n skild vir hulle wat onberispelik leef,
8deurdat Hy die paaie van die reg bewaak; die pad van sy getroue volgelinge beskerm Hy.
9Dan sal jy verstaan wat regverdig, billik en reg is – elke goeie pad.
10Want wysheid sal in jou hart inkom, en kennis sal vir jou aangenaam wees.
11Goeie oordeel sal oor jou wag hou, verstandigheid sal jou bewaak
12om jou te red van die pad van onheil, van iemand wat verdorwe uitsprake maak,
13van hulle wat reguit paaie verlaat om op donker weë te gaan,
14van hulle wat vreugde daarin vind om kwaad te doen, wat juig oor die verdorwenheid van die kwaad,
15hulle wie se paaie verdraai is, en wat die spoor byster is op hulle roetes,
16en om jou te red van 'n vreemde vrou, van die uitlander met haar vleitaal,
17wat die boesemvriend van haar jeug verlaat, die verbond van haar God vergeet.
18Ja, na die dood sak haar huis af, na die skimme haar spore.
19Almal wat na haar gaan – hulle keer nie terug nie, hulle bereik nie weer die paaie van die lewe nie.
20Dus, jy moet die pad van goeie mense loop, en die weë van regverdiges – daarby moet jy hou.
21Want opregtes sal die land bewoon, en wie onberispelik is, sal daarin agterbly.
22Maar die goddeloses sal uit die land uitgeroei word, en wie verraderlik optree, sal daaruit weggeruk word.