Proverbs 1AFR20

1Die Spreuke van Salomo, seun van Dawid, die koning van Israel:

2om vertroud te raak met wysheid en vermaning, om woorde van insig te verstaan;

3om vermaning wat begrip kweek, te ontvang, begrip vir wat regverdig en billik en reg is;

4om onkundiges vernuf aan te leer, jongmense kennis en goeie oordeel

5– 'n wyse sal luister en geleerdheid vermeerder, en 'n verstandige sal leierskap verwerf –

6om 'n spreuk en 'n gesegde te begryp, die woorde van wyses en hulle raaisels.

7Ontsag vir die Here is die begin van kennis; wysheid en vermaning – net sotte verag dit.

8My seun, luister na die vermaning van jou vader, en moenie die onderrig van jou moeder verontagsaam nie;

9want dit is 'n bekoorlike krans vir jou kop, en halssnoere vir jou nek.

10My seun, as sondaars jou wil verlei, moenie instem nie.

11As hulle sê: “Gaan saam met ons; laat ons 'n hinderlaag opstel vir bloedvergieting; laat ons 'n onskuldige voorlê sonder rede;

12laat ons, soos die •doderyk, hulle lewend verslind, volledig, soos dié wat afdaal in die put.

13Allerlei kosbare besittings sal ons vind; ons sal ons huise vol maak met buit.

14Deel jou lot met ons; ons sal almal net een beursie hê.”

15My seun, moenie saam met hulle op die pad gaan nie, hou jou voet terug van hulle paaie;

16want na die kwaad hardloop hulle voete; hulle is haastig om bloed te vergiet.

17Ja, tevergeefs word 'n net uitgesprei, waar elke voël met vlerke dit sien;

18maar hierdie manne stel 'n hinderlaag op vir hulle eie bloedvergieting; hulle stel 'n lokval vir hulleself!

19So verloop die lewenspad van elkeen wat onregverdige wins maak – dit kos die een wat dit verkry, sy lewe.

20Wysheid roep opgewonde op straat, op die stadspleine laat sy haar stem hoor.

21Aan die bopunt van 'n rumoerige straat roep sy uit, by die ingange na die stadspoorte klink haar woorde op:

22“ Hoe lank nog gaan julle, onkundiges, onkunde liefhê, gaan spotters 'n geklets waardevol ag, en gaan dwase kennis haat?

23Julle moet reageer op my teregwysing. Kyk, ek sal my gees vir julle laat uitstroom, ek sal my woorde aan julle bekend maak.

24Omdat ek geroep, maar julle geweier het, ek my hand uitgesteek, maar julle geen aandag gegee het nie,

25julle al my raad in die wind geslaan het, my teregwysings nie aanvaar het nie,

26sal ek op my beurt lag oor julle teenspoed, die spot dryf wanneer julle verskrikking kom,

27wanneer julle verskrikking kom soos 'n stormwind, en julle teenspoed losbreek soos 'n orkaan, wanneer benoudheid en angs julle oorval.

28“ Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie.

29Aangesien hulle kennis gehaat het, ontsag vir die Here nie gekies het nie,

30my raad nie aanvaar het nie, al my teregwysings versmaai het,

31sal hulle die vrug van hulle optrede moet eet, sal hulle genoeg kry van hulle eie planne.

32Ja, die ongeërgdheid van onverstandiges kos hulle dood; die selfversekerdheid van dwase vernietig hulle.

33Maar wie na my luister, sal veilig woon; hulle sal rustig wees, sonder die verskrikking van onheil.”

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Proverbs 1.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.