1Moenie slegte mense beny nie, en begeer nie om by hulle te wees nie;
2want hulle harte oorpeins verwoesting, en hulle lippe praat oor die aanrig van skade.
3Deur wysheid word 'n huis gebou, en deur verstandigheid word dit gevestig.
4Deur kennis word kamers gevul met allerlei kosbare en lieflike dinge.
5'n Wyse man het mag, en 'n man met kennis maak krag meer doeltreffend.
6Want deur goeie leierskap kan jy oorlog voer, en oorwinning kom deur baie raadgewers.
7Wysheid is onbereikbaar vir 'n sot; in die stadspoort maak hy sy mond nie oop nie.
8Wie planne beraam om kwaad te doen, word 'n aartsknoeier genoem.
9'n Sotlike plan is sonde, en 'n spotter is vir 'n mens afstootlik.
10Gedra jy jou lafhartig in 'n tyd van nood, dan is jou krag beperk.
11Red hulle wat weggeneem word na die dood, dié wat na die slagplek strompel – moenie terughou nie!
12As jy sê, ‘Kyk, ons het dit nie geweet nie!’ sal Hy wat harte beoordeel, sal Hy nie daaraan aandag gee nie? En Hy wat jou lewe beskerm, sal Hy dit nie weet nie? Hy sal 'n mens vergeld ooreenkomstig sy dade.
13My seun, eet heuning, want dit is goed, en heuningkoek is soet in jou mond.
14Besef dan, só is wysheid vir jou lewe – as jy dit vind, is daar 'n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie.
15Moenie soos 'n goddelose die tuiste van 'n regverdige dophou nie; moenie sy rusplek verwoes nie.
16Want 'n regverdige sal sewe keer val en opstaan, maar goddeloses kom tot 'n val deur teenspoed.
17Wanneer jou vyand val, moet jou nie verheug nie; wanneer hy tot 'n val kom, laat jou hart nie jubel nie.
18Anders sien die Here dit, en is dit verkeerd in sy oë; dalk wend Hy sy toorn van hom af.
19Moet jou nie ontstel oor kwaaddoeners nie; moet goddeloses nie beny nie.
20Want daar is nie 'n toekoms vir slegte mense nie; die lamp van goddeloses word uitgedoof.
21Jy moet ontsag hê vir die Here my seun, en vir die koning; met hulle wat andersgesind is, moet jy jou nie inlaat nie.
22Want onverwags tref teenspoed hulle, en wie weet watter ramp die Here en die koning kan bring?
23Ook hierdie spreuke is van die wyses: Om partydig te wees in regspraak is nie goed nie.
24Wie vir 'n goddelose sê, “Jy is regverdig” – volke sal hom vervloek, nasies sal hom verdoem.
25Maar dit gaan goed met dié wat 'n goddelose skuldig vind; oor hulle kom die seën van voorspoed.
26Wie eerlike antwoorde gee, is soos 'n soen op die lippe.
27Doen jou werk buite bestendig, en handel jou werk op jou land af; bou dan daarna jou huis.
28Moenie sonder gronde as getuie optree teen jou medemens nie! Sal jy met jou lippe mislei?
29Moet dít nie sê nie: “Soos hy aan my gedoen het, sal ek aan hom doen; ek gaan die man vergeld ooreenkomstig sy optrede.”
30By die land van 'n lui mens het ek verbygeloop, en by die wingerd van 'n mens sonder verstand.
31Kyk, dit was heeltemal toegegroei onder brandnetels, die grond was oortrek met onkruid, en sy klipmuur was afgebreek.
32Ek het dit bekyk en ter harte geneem; ek het dit gesien en as 'n vermaning aanvaar:
33'n Bietjie slaap, 'n bietjie insluimer, 'n bietjie hande vou om te rus;
34dan kom, soos 'n rondloper, jou armoede daar aan, jou gebrek soos 'n skaamtelose man.