Proverbs 23
1 Wanneer jy gaan sit om saam met 'n heerser te eet, wees besonder bedag op wie voor jou is.
2 Sit 'n mes teen jou keel as jy 'n groot eetlus het.
3 Moenie sy lekkernye begeer nie, want dit is misleidende kos.
4 Moet jou nie afsloof om ryk te word nie, jy behoort van beter te weet – hou op daarmee!
5 Sou jy jou oë net daarop rig? Dit is reeds weg! Want dit kry beslis vlerke; soos 'n arend vlieg dit weg in die lug.
6 Moenie die brood van 'n gierigaard eet nie, en moenie sy lekkernye begeer nie.
7 Want in sy binneste maak hy somme; dit is hoe hy is. “Eet en drink!” sê hy vir jou, maar sy hart is nie by jou nie.
8 Jou krieseltjie wat jy geëet het – jy gaan dit opgooi, en jou aangename woorde het jy dan verspil.
9 Moenie direk met 'n dwaas praat nie, want jou verstandige woorde sal hy met minagting bejeën.
10 Moenie ou grense verskuif nie, en in die landerye van vaderloses moet jy nie kom nie.
11 Want hulle losser is sterk; Hy sal hulle regstryd teen jou voer.
12 Rig jou hart op vermaning, en jou oor op woorde van wysheid.
13 Moenie straf van 'n jong seun weerhou nie; as jy hom met 'n lat slaan, sal hy nie doodgaan nie.
14 Jy slaan hom wel met 'n lat, maar jy red sy lewe van die •doderyk.
15 My seun, as jou hart wys is, is ook my hart verheug.
16 My binneste sal jubel wanneer jou lippe praat wat reg is.
17 Jou hart moet nie opgewonde raak oor sondaars nie, maar wees die hele tyd opgewonde oor ontsag vir die Here.
18 Daar is beslis 'n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie.
19 As jy luister, my seun, sal jy wys word en sal jy jou hart op die regte pad lei.
20 Moet jou nie met die wynvlieë ophou nie, met dié wat hulle aan vleis ooreet nie.
21 Want 'n dronklap en 'n vraat sal verarm, en lomerigheid laat mens vodde dra.
22 Luister na jou vader, hy wat jou verwek het; en moet jou moeder nie minag wanneer sy oud geword het nie.
23 Verkry waarheid, en moet dit nie verkwansel nie, ook wysheid, vermaning en insig.
24 Die vader van 'n regverdige jubel uitbundig; wie 'n wyse seun verwek, sal oor hom verheug wees.
25 Mag jou vader en moeder blydskap ervaar; mag sy wat jou in die wêreld gebring het, jubel.
26 Gee my jou hart, my seun, en laat jou oë vreugde vind in my paaie.
27 want 'n prostituut is 'n diep vangkuil, en 'n vreemde vrou is 'n nou put.
28 Ook sy lê 'n man voor soos 'n rower; sy maak die ontroues onder mense meer.
29 By wie is daar smart? By wie is daar ellende? By wie is daar 'n gekyf? By wie is daar klagtes? By wie is daar onnodige wonde? By wie is daar bloedbelope oë?
30 Dit is by hulle wat agterbly by die wyn, by hulle wat ingaan om gemengde wyn te bly proe.
31 Moenie na wyn kyk wanneer dit rooi skyn, sy glans in die beker gee nie – dit vloei te glad af!
32 Agterna pik dit soos 'n slang en spuit gif soos 'n kobra.
33 Dan sien jou oë vreemde goed, en jou hart praat verdorwe dinge.
34 Jy sal wees soos een wat lê op die oop see, soos een wat lê op die top van 'n skip se takelwerk.
35 Jy sal dink: Hulle het my geslaan, maar ek het geen pyn gevoel nie; hulle het my afgeransel, maar ek het niks gemerk nie. Wanneer word ek wakker? Ek wil dit weer gaan soek.