1'n Goeie naam is verkieslik bo groot rykdom, egte innemendheid bo silwer en goud.
2Rykes en armes het dít gemeen: Die Here het hulle almal gemaak.
3'n Slim mens sien gevaar en skuil, maar onverstandiges gaan voort en betaal die prys.
4Die beloning vir nederigheid en ontsag vir die Here is rykdom, eer en lewe.
5Dorings en wippe is op die pad van 'n vals persoon; wie sy lewe wil beskerm, bly ver daarvan weg.
6Rig die jongmens af ooreenkomstig die pad wat hy moet loop; selfs wanneer hy oud geword het, sal hy nie daarvan afwyk nie.
7'n Ryke heers oor armes, en wie leen, is 'n slaaf van die man wat uitleen.
8Wie onreg saai, sal boosheid oes, en die lat van sy woedebui sal tot niet gaan.
9Wie ruimhartig is, sal geseën word, want hy gee van sy brood aan die hulpelose.
10Dryf 'n spotter weg, dan is stryd by die deur uit, en eise en skandalige optrede hou op.
11Wie 'n rein hart liefhet, wie innemend praat, sal 'n koning as sy vriend hê.
12Die oë van die Here bewaak kennis, en die sake van 'n bedrieër werp Hy omver.
13Die luiaard sê: “Daar is 'n leeu buite! Binne-in die dorpspleine sal ek doodgemaak word!”
14Die mond van vreemde vroue is 'n diep vangkuil; wie deur die Here verdoem is, sal daarin val.
15Sotheid wat vas is aan die hart van 'n jong seun – 'n lat wat straf, neem dit ver van hom weg.
16Wie 'n arm mens uitbuit om vir homself meer te kry, en aan 'n ryk mens geskenke gee – dit lei net tot gebrek.
17Spits jou oor en luister na die woorde van wyses! En jou hart, stel dit in op my kennis!
18Want dit is aangenaam as jy dit in jou binneste bewaar, as dit alles gereed lê op jou lippe.
19Met die oog daarop dat jou vertroue op die Here sal wees, maak ek dit vandag aan jou bekend, ja, aan jou.
20Het ek nie vir jou dertig spreuke opgeskryf met raad en kennis
21om aan jou die waarheid, betroubare woorde, bekend te maak, sodat jy betroubare antwoorde kan gee aan dié wat jou gestuur het nie?
22Moenie 'n arme beroof omdat hy arm is nie, en moenie die magtelose vertrap in die poort nie,
23want die Here sal hulle regstryd voer en van hulle plunderaars die lewe plunder.
24Moenie vriende maak met 'n humeurige mens nie, en met 'n opvlieënde man moet jy nie saamgaan nie;
25anders raak jy vertroud met sy paaie en stel jy só 'n valstrik vir jouself.
26Moenie onder dié wees wat hand gee, wat vir skulde borg staan nie.
27As jy dalk niks het om te betaal nie, waarom moet iemand jou bed onder jou uit neem?
28Moenie ou grense verskuif wat jou voorouers gelê het nie.
29Sien jy 'n man wat knap is in sy werk? Voor konings sal hy in diens staan; hy sal nie in diens van onaansienlikes staan nie.