1Die koning se hart is waterstrome in die hand van die Here: Hy lei dit waarheen Hy wil.
2Elke pad van 'n mens is reg in sy eie oë, maar die Here toets harte.
3Om te doen wat reg en billik is, is vir die Here verkieslik bo offers.
4Hoogmoedige oë en 'n verwaande hart – die lamp van goddeloses – is sonde.
5Die planne van 'n vlytige strek net tot voordeel, maar elkeen wat oorhaastig is, ervaar net gebrek.
6Die verkryging van skatte deur 'n vals tong is 'n vlugtige damp – dit is strikke van die dood.
7Die gewelddade van goddeloses sleep hulle weg, want hulle weier om te doen wat reg is.
8Verdraaid is die pad van 'n oneerlike man, maar 'n onbevlekte – sy optrede is reg.
9Om op die hoek van 'n dak te woon, is beter as om 'n huis te deel met 'n bakleierige vrou.
10Die sielsbegeerte van 'n goddelose is boosheid; in sy oë mag geen genade betoon word aan sy medemens nie.
11Wanneer mens 'n spotter beboet, word 'n onkundige wys; en as mens 'n wyse onderrig, aanvaar hy kennis.
12Die Regverdige hou 'n goddelose se huis dop; Hy stort goddeloses in die ongeluk.
13Wie sy ore sluit vir die hulpkreet van 'n arme, sal self ook roep en nie geantwoord word nie.
14'n Geskenk in die geheim laat toorn bedaar, en 'n omkoopgeskenk uit die vou van 'n kleed, heftige woede.
15Dit is 'n vreugde vir die regverdige wanneer reg geskied, maar 'n verskrikking vir boosdoeners.
16'n Mens wat afdwaal van die pad wat begrip kweek, sal in die samekoms van skimme tot rus kom.
17Wie van plesier hou, se voorland is gebrek; wie van wyn en salfolie hou, sal nie ryk word nie.
18'n Goddelose word 'n losprys vir die regverdige, en 'n verraderlike mens neem die plek in van opregtes.
19Om in 'n woestyn te woon, is beter as by 'n vrou wat gedurig kyf en 'n ergernis is.
20'n Kosbare skat en olie is in die tuiste van 'n wyse, maar 'n dwase mens verslind syne.
21Wie geregtigheid en troue liefde najaag, vind lewe, geregtigheid en eer.
22'n Wyse kan optrek teen 'n stad met helde, en die versterkings laat tuimel waarop die stad vertrou.
23Wie sy mond en tong bewaar, bewaar sy lewe van benoudhede.
24'n Vermetele, aanmatigende mens – Spotter is sy naam – tree met matelose verwaandheid op.
25Die begeerte van 'n luiaard sal hom sy dood kos, want sy hande weier om iets te doen.
26Die hele dag sal hy brand van begeerte, terwyl 'n regverdige sal gee en nie terughou nie.
27Die offer van goddeloses is afstootlik, hoeveel te meer as dit gebring word met 'n slinkse bedoeling!
28'n Leuenagtige getuie gaan ten gronde, maar iemand wat luister, mag altyd praat.
29'n Goddelose sit 'n brutale gesig op, maar 'n opregte, hy slaan ag op wat hy doen.
30Geen wysheid, geen verstandigheid, ja, geen raad hou stand teen die Here nie.
31'n Perd kan afgerig word vir die dag van 'n geveg, maar die oorwinning is van die Here.