Proverbs 20AFR20

1Die wyn is 'n spotter, en sterk drank 'n lawaaimaker. Elkeen wat daarvan slinger, is nie wys nie.

2'n Gebrul soos dié van 'n jong leeu, so is die angs wat 'n koning veroorsaak; wie hom kwaad maak, stel sy lewe in gevaar.

3Dit is 'n eer vir 'n mens om van 'n woordewisseling weg te bly, maar elke sot laat 'n stryery losbreek.

4In die winter ploeg 'n luiaard nie; soek hy iets in die oestyd, is daar niks.

5Diep water is die planne in die hart van 'n man, en 'n skerpsinnige mens sal daaruit put.

6Baie mense verklaar hulle lojaliteit, maar 'n werklik betroubare man – wie sal hom vind?

7Iemand wat onberispelik leef, 'n regverdige – gelukkig is sy kinders wat ná hom kom!

8'n Koning wat op die regterstoel sit, sif met sy oë al wat sleg is, uit.

9Wie kan sê: “Ek het my hart skoon gehou, ek is rein van my sonde?”

10Twee soorte gewigte, twee soorte efas – dit is vir die Here afstootlik.

11Reeds aan sy dade laat 'n jong man hom ken, of wat hy doen, suiwer en reg is.

12'n Oor wat luister en 'n oog wat sien – die Here het ook albei gemaak.

13Moenie lief wees vir slaap nie, anders verarm jy; as jy jou oë oophou, sal jy jou versadig eet aan brood.

14“Nikswerd! Nikswerd!” sê die koper; maar as hy wegstap, dan spog hy.

15Daar is goud en 'n oorvloed aan koraal, maar 'n kosbare versiering is lippe met kennis.

16Neem sy kleed, want hy het borg gestaan vir 'n vreemde, vir 'n vreemde vrou – neem 'n pand van hom!

17Aangenaam is vir 'n mens die brood verkry deur bedrog, maar daarna is sy mond vol gruis.

18Planne kom deur beraadslaging tot stand. Voer oorlog met goeie leierskap!

19Wie as 'n skindertong rondgaan, openbaar geheime; moet dus nie betrokke wees by iemand wat sy lippe oopsper nie.

20Wie sy vader en moeder vloek – sy lamp word uitgedoof in diepe duisternis.

21'n Erfenis aanvanklik oorhaastig verkry, sal uiteindelik nie geseënd wees nie.

22Moenie sê, “Ek wil die kwaad vergeld” nie; wag op die Here, sodat Hy jou help.

23Twee soorte gewigte is vir die Here afstootlik, en 'n vals weegskaal is nie goed nie.

24Die Here bepaal 'n man se treë; en 'n mens, hoe sal hy dan sy eie pad verstaan?

25Dit is 'n valstrik vir 'n mens as hy onnadenkend sê, “Heilig!” om dan eers ná die geloftes daaroor na te dink.

26'n Wyse koning sif goddeloses uit en laat die dorswiel oor hulle loop.

27Die asem van die mens is die Here se lamp; daarmee deursoek Hy al die kamers van die binneste.

28Troue liefde en waarheid beveilig 'n koning; ja, met troue liefde stut hy sy troon.

29Die roem van jong manne is hulle krag, en die luister van oumense is grys hare.

30Snye aan 'n kneuswond suiwer die kwaad uit, en slae die kamers van die binneste.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Proverbs 20.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.