Proverbs 19AFR20

1'n Arme wat onberispelik leef, is beter as iemand met vals lippe wat boonop 'n dwaas is.

2Sonder kennis is selfs ywer nie goed nie, en wie oorhaastig met sy voete is, trap mis.

3Die sotheid van 'n mens gooi sy lewenspad omver, maar sy hart tier teen die Here.

4Besittings maak vriende baie meer, maar 'n hulpelose word deur sy vriend verlaat.

5'n Vals getuie bly nie ongestraf nie, en iemand wat leuens uitryg, sal nie vrykom nie.

6Baie soek die guns van 'n vooraanstaande persoon, en elkeen is die vriend van 'n vrygewige man.

7'n Arme se hele familie het 'n weersin in hom; hoeveel te meer sal sy boesemvriend nie van hom af wegbly nie? Hy probeer hulle met woorde bereik, maar hulle is nie daar nie.

8Wie verstand verkry, het sy lewe lief; hy koester verstandigheid om die goeie te vind.

9'n Vals getuie bly nie ongestraf nie, en wie leuens uitryg, gaan ten gronde.

10Weelde pas nie by 'n dwaas nie – hoeveel minder pas dit 'n slaaf om oor bevelvoerders te heers!

11Die skranderheid van 'n mens maak hom geduldig, en dit is vir hom 'n eer om 'n oortreding oor te sien.

12'n Gebrul soos dié van 'n jong leeu, so is die onbeheersde woede van 'n koning; maar soos dou op die gras is sy welwillendheid.

13'n Dwase seun is die ondergang van sy vader, en die gekyf van 'n vrou is soos 'n lekkende dak wat aanhou drup.

14'n Huis en besittings is 'n erflating van ouers, maar 'n verstandige vrou is van die Here.

15Luiheid laat iemand wegsink in diepe slaap, en 'n trae persoon ly honger.

16Wie gebooie nakom, beskerm sy lewe; wie die weë van die Here minag, sal sterf.

17Wie hom oor 'n arme ontferm, leen aan die Here, en Hy sal hom vergoed vir sy weldaad.

18Straf jou seun terwyl daar hoop is, maar moenie jouself opsweep, en so sy dood veroorsaak nie.

19Wie mateloos woedend word, betaal altyd die boete; as jy hom red, sal jy dit weer moet doen.

20Luister na raad en aanvaar vermaning, sodat jy uiteindelik wys kan wees.

21Daar is baie planne in 'n mens se hart, maar die raad van die Here – dít kom tot stand.

22Wat van 'n mens verwag word, is sy troue liefde, en 'n arm mens is beter as 'n leuenaar.

23Ontsag vir die Here lei tot lewe, en 'n mens gaan versadig slaap; deur 'n ramp word hy nie getref nie.

24Steek die luiaard sy hand in die skottel, bring hy dit selfs nie eers na sy mond terug nie.

25Slaan jy 'n spotter, dan word 'n onkundige slim; die teregwysing van 'n verstandige laat hom kennis verstaan.

26Wie 'n vader geweld aandoen en 'n moeder beseer, is 'n seun wat skande maak en skandelik optree.

27As jy ophou, my seun, om na vermaning te luister, dan is dit net om te dwaal – weg van die woorde van kennis.

28'n Deugniet van 'n getuie maak 'n bespotting van die reg, en die mond van goddeloses verslind boosheid.

29Vonnisse is gereed vir spotters, en slae vir die rûe van dwase.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Proverbs 19.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.