1Wie hom afsonder, soek sy eie begeerte; teen alle gesonde oordeel ontketen hy 'n stryery.
2'n Dwaas het geen sin in verstandigheid nie, maar net sin daarin om sy hart te ontbloot.
3Wanneer 'n goddelose opdaag, daag veragting ook op, en saam met skande, ook bespotting.
4Diep water is die woorde uit 'n man se mond; 'n bruisende stroom is 'n bron van wysheid.
5Om vir 'n dwaas partydig te wees, is nie goed nie; dit is om 'n regverdige in die reg te dwarsboom.
6Die lippe van 'n dwaas kom met 'n getwis, en sy mond roep om slae.
7Die mond van die dwaas is sy ondergang, en sy lippe 'n valstrik vir sy lewe.
8Die woorde van 'n kwaadstoker is soos lekkernye – dit gaan af na die binneste van die liggaam.
9Ook hy wat sloer in sy dagtaak is die broer van 'n opperste verwoester.
10'n Sterk toring is die Naam van die Here; die regverdige hardloop dit binne, en is onbereikbaar.
11Die besittings van 'n ryke is sy sterk stad; soos 'n ontoeganklike stadsmuur is dit in sy verbeelding.
12Voor ineenstorting is 'n mens se hart hoogmoedig, maar nederigheid gaan eer vooraf.
13Wie antwoord voordat hy luister – sotheid is sy deel, en ook vernedering.
14Die gees van 'n mens dra hom deur siekte, maar 'n neerslagtige gees – wie kan dit opbeur?
15Die hart van 'n verstandige verkry kennis, en die oor van wyses soek na kennis.
16Die geskenk van 'n mens skep vir hom ruimte; na die teenwoordigheid van grotes lei dit hom.
17Die een wat eerste sy saak stel, het skynbaar gelyk, maar sy medemens kom en ondervra hom.
18Die lot bring 'n einde aan rusie, en hou sterkes uitmekaar.
19'n Broer teen wie oortree is, is minder toeganklik as 'n sterk vestingstad, en rusie is soos die sluitbalk van 'n vesting.
20Van die vrug van 'n mens se mond word sy maag gevul; die opbrengs van sy lippe versadig hom.
21Dood en lewe is in die mag van die tong, en hulle wat lief is om die tong te gebruik, sal die vrug daarvan eet.
22Wie 'n vrou gevind het, het die goeie gevind, en geniet die goedkeuring van die Here.
23'n Arme praat pleitend, maar 'n ryke antwoord hardvogtig.
24'n Man met baie vriende word geruïneer, maar daar is 'n geliefde vriend wat nader is as 'n broer.