Bible

Designed

For Churches, Made for Worship

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Philippians 1

:
Afrikaans - AFR20
1 Paulus en Timoteus, diensknegte van •Christus Jesus, aan al die heiliges in Christus Jesus wat in Filippi is, en ook die opsieners en diakens:
2 Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus.
3 Ek dank my God elke keer wanneer ek aan julle dink.
4 Altyd, in elke gebed van my vir julle almal, bid ek met blydskap
5 oor julle deelname aan die evangelie, van die eerste dag af tot nou,
6 juis hiervan oortuig dat Hy, wat 'n goeie werk in julle begin het, dit sal voltooi tot op die dag van •Christus Jesus.
7 Dit is immers vir my reg om so oor julle almal te dink, omdat ek julle in my hart hou. Wat my gevangenskap, sowel as die verdediging en bevestiging van die evangelie betref, deel julle almal saam met my in die genade.
8 Want God is my getuie hoe ek met die innigheid van Christus Jesus intens na julle almal verlang.
9 Ek bid juis dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in kennis en insig,
10 om die dinge wat saak maak, te kan onderskei, sodat julle, met die oog op die dag van Christus, innerlik suiwer en onberispelik kan wees,
11 gevul met die vrug van •geregtigheid deur Jesus Christus tot verheerliking en lof van God.
12 Broers, ek wil julle moet weet dat wat met my gebeur het, in werklikheid tot bevordering van die evangelie gelei het.
13 Sodoende het dit by die hele pretorium en al die ander bekend geword dat ek ter wille van •Christus in gevangenskap verkeer.
14 Ook waag die meeste van die broers in die Here, omdat hulle as gevolg van my gevangenskap vertroue verkry het, dit baie meer om die woord vreesloos te verkondig.
15 Sommige verkondig Christus wel uit jaloesie en twisgierigheid, ander egter uit goedgesindheid.
16 Hulle doen dit uit liefde, omdat hulle weet dat ek bestem is om die evangelie te verdedig,
17 maar die ander verkondig Christus uit selfsugtige ambisie nie met opregte motiewe nie, maar met die bedoeling om vir my in my gevangenskap verdrukking te veroorsaak.
18 Wat maak dit egter saak? In elke geval, of dit met bybedoelings of in waarheid is, word Christus verkondig en daaroor is ek vol blydskap. Ja, ek sal voortdurend bly wees,
19 want ek weet dat dit alles tot my verlossing sal lei, omdat julle vir my bid, en die Gees van Jesus Christus my ondersteun.
20 Dit is immers my innige verwagting en hoop dat ek nie in enige opsig beskaam sal word nie, maar dat Christus met alle vrymoedigheid ook nou, soos altyd, deur my liggaam verheerlik sal word, of dit nou deur my lewe of deur my dood is.
21 Want vir my is om te leef Christus, en om te sterf wins;
22 maar as my liggaam bly leef, beteken dit dat ek nog verder vrugbaar sal kan werk. Ek weet werklik nie wat om te kies nie.
23 Ek is in 'n tweestryd gewikkel: Aan die een kant verlang ek om heen te gaan en saam met Christus te wees. Dit is immers verreweg die beste.
24 Aan die ander kant is dit ter wille van julle noodsaakliker dat ek liggaamlik hier bly.
25 Juis omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek hier sal bly, ja, dat ek wel by julle almal sal bly, sodat julle vordering kan maak en geloofsvreugde kan ervaar.
26 So sal julle trots op my, wanneer ek weer by julle is, in Christus Jesus nog meer kan toeneem.
27 Nog net dit: Tree so op dat dit die evangelie van •Christus waardig is, sodat, of ek kom en julle sien, of nie teenwoordig is nie, ek aangaande julle omstandighede mag hoor dat julle in één gees vasstaan, en een van hart en siel saam stry vir die geloof in die evangelie,
28 en julle in geen opsig deur julle teenstanders laat afskrik nie. Vir hulle is dit 'n teken van ondergang, maar vir julle is dit 'n teken van verlossing en dit kom van God.
29 Dit is immers ter wille van Christus aan julle as gawe gegee om nie net in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly.
30 Julle stry dieselfde stryd wat julle my sien stry het, en waarvan julle nou hoor dat ek nog steeds stry.