Ephesians 6
1 Kinders, wees in die Here aan julle ouers gehoorsaam, want dit is hoe dit hoort.
2 “Eer jou vader en jou moeder,” dit is die eerste gebod met 'n belofte,
3 “sodat dit met jou goed mag gaan, en jy 'n lang lewe op aarde sal hê.”
4 En vaders: Moenie julle kinders uittart nie, maar voed hulle op deur die dissipline en teregwysing van die Here.
5 Slawe, wees met vrees en bewing aan julle aardse eienaars gehoorsaam, met opregte harte, soos aan •Christus –
6 nie met lippediens om mense se guns te wen nie, maar as slawe van Christus wat die wil van God van harte doen,
7 terwyl julle met blymoedigheid julle diens verrig, soos vir die Here, en nie vir mense nie.
8 Want julle weet dat elkeen, indien hy iets goeds doen, dit van die Here as loon sal terug ontvang, of hy 'n slaaf is of 'n vryman.
9 En julle, eienaars, tree net so op teenoor die slawe, en staak julle dreigemente, omdat julle weet dat julle en hulle Here in die hemel is, en dat Hy niemand volgens die uiterlike beoordeel nie.
10 Ten slotte: Vind jou sterkte in die Here en in sy geweldige krag.
11 Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die listighede van die Duiwel.
12 Vir ons is die stryd immers nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geeste in die hemelruim.
13 Neem daarom die volle wapenrusting van God op, sodat julle op die dag van onheil weerstand kan bied en, nadat julle alles uitgevoer het, staande kan bly.
14 Staan dan vas, deur julle heupe te omgord met die waarheid, julle te bedek met die borsplaat van •geregtigheid,
15 en deur die bereidheid vir die evangelie van vrede as skoene aan julle voete aan te trek,
16 en by dit alles die skild van die geloof op te neem, waardeur julle in staat sal wees om al die vurige pyle van die Bose te blus.
17 Dra ook die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die woord van God.
18 By elke geleentheid wanneer julle bid en smeek, moet julle telkens deur die Gees bid. Daarom moet julle waaksaam wees, deur volhardend te pleit vir al die •heiliges.
19 Bid ook vir my sodat, wanneer ek my mond oopmaak, die gepaste woord vir my gegee mag word, om met vrymoedigheid die geheimenis van die evangelie bekend te maak –
20 hiervoor is ek 'n gesant in kettings – sodat ek vrymoedig daaroor kan praat soos ek moet.
21 Sodat julle kan weet wat my omstandighede is, en wat ek doen – alles sal Tigikus, die geliefde broer en getroue dienskneg van die Here, julle vertel.
22 Juis hiervoor stuur ek hom na julle, sodat julle van ons omstandighede kan weet, en sodat hy julle harte kan bemoedig.
23 Vrede vir die broers, en liefde en geloof van God die Vader, en van die Here, Jesus •Christus.
24 Sy genade bly met almal wat vir ons Here Jesus Christus onverganklik liefhet.