Bible

Elevate

Your Sunday Morning Worship Service

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Philippians 2

:
Afrikaans - AFR20
1 Daarom, as daar enige aansporing in •Christus is, as daar enige troos uit die liefde is, as daar enige gemeenskap van die Gees is, as daar enige innige meelewing en ontferming is,
2 maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees een in liefde, een van gees, een in denke;
3 deur nie iets uit selfsug of ydelheid te doen nie, maar in nederigheid die een die ander hoër te ag as homself;
4 deur elkeen nie net na sy eie belange om te sien nie, maar ook na dié van ander.
5 Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees:
6 Hoewel Hy in die gestalte van God was, het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie,
7 maar Hy het Homself daarvan leeggemaak, deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy in die vorm van 'n mens verskyn het,
8 het Hy Homself verneder, deurdat Hy gehoorsaam geword het tot die dood toe, ja, die dood aan die kruis.
9 Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en aan Hom die Naam geskenk wat bo elke naam is,
10 sodat in die Naam van Jesus elke knie sal buig van diegene in die hemel en op die aarde en onder die aarde
11 en elke tong sal bely, “Jesus Christus is die Here!” tot eer van God die Vader.
12 Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam was nie net in my teenwoordigheid nie, maar nou ook nog veel meer in my afwesigheid werk met vrees en bewing aan julle verlossing.
13 Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God.
14 Doen alles sonder kla en teenpraat,
15 sodat julle sonder blaam en onskuldig kan wees, kinders van God, smetteloos, te midde van 'n krom en ontaarde geslag. Julle skyn onder hulle soos sterre in die heelal,
16 deurdat julle vashou aan die woord van die lewe. Op hierdie manier sal julle op die dag van •Christus my rede tot roem wees, sodat ek nie vergeefs gehardloop of my vergeefs ingespan het nie.
17 Maar al word ek ook as •drankoffer uitgegiet oor die offer en bediening van julle geloof, verbly ek my, en verbly ek my saam met julle almal.
18 Verbly julle ook so, ja, verbly julle saam met my.
19 Ek hoop in die Here Jesus om Timoteus gou na julle te stuur, sodat ek ook bemoedig kan word wanneer ek julle omstandighede leer ken het.
20 Want ek het geen ander geesgenoot wat hom opreg oor julle omstandighede sal bekommer nie.
21 Almal soek net hulle eie belang, nie dié van Jesus •Christus nie.
22 Julle weet hoe Timoteus homself bewys het, hoe hy soos 'n kind teenoor sy vader, saam met my die evangelie bedien het.
23 Ek hoop dus om hom te stuur, so gou as wat ek weet wat my omstandighede gaan wees.
24 Ek vertrou op die Here dat ek ook self gou sal kom.
25 Ek ag dit noodsaaklik om Epafroditus, my broer, medewerker en medestryder en julle gesant, my helper in nood, na julle te stuur.
26 Hy het immers gedurig na julle almal verlang en was baie ontsteld omdat julle gehoor het dat hy siek geword het.
27 Hy was werklik tot die dood toe siek, maar God het Hom ontferm, nie net oor hom nie, maar ook oor my, sodat ek nie een verdriet die ander sou ervaar nie.
28 Daarom stuur ek hom nog dringender terug, sodat julle hom kan sien en weer bly kan wees, en ek minder bekommerd.
29 Ontvang hom dan in die Here met groot blydskap, en respekteer mense soos hy,
30 want deur sy werk vir Christus het hy na aan die dood gekom: Hy het sy lewe gewaag om, waar julle hulp aan my tekort geskiet het, dit aan te vul.