Micah 7
1 Wee my! Soos ná die insameling van somervrugte, soos ná die oes van die druiwe, is daar geen druiwetros om te eet of vroeë vye wat ek begeer nie.
2 Die getroues het uit die land verdwyn, en daar is glad nie meer opregtes onder die mense nie. Hulle almal lê en wag om bloed te vergiet; hulle maak jag op mekaar met nette.
3 Albei hande staan gereed om kwaad te doen; die •hoë amptenaar en ook die regter vra 'n omkoopgeskenk. Ja, die vername is die een wat sê wat hy wil hê, en hulle verbind mense daartoe.
4 Die beste onder hulle is soos 'n doringstruik, die opregtes onder hulle is erger as 'n doringheining. Die dag van hulle wat jou dophou, die dag om met jou af te reken, is op pad. Nou gaan die verwarring wat hulle tref, aanbreek!
5 Moenie 'n vriend vertrou nie! Moenie op 'n boesemvriend staatmaak nie! Wees versigtig wat jy sê vir die vrou wat in jou arms lê.
6 Want die seun hou sy vader vir 'n dwaas; die dogter kom in opstand teen haar moeder, 'n skoondogter teen haar skoonmoeder en 'n man se eie huismense is sy vyande.
7 Maar ek sal vir die Here op die uitkyk wees, ek sal bly wag op die God wat my verlos. My God sal my hoor.
8 Moet jou nie oor my verlustig nie, my vyand. Al het ek geval, ek staan weer op; al sit ek in die donker, die Here is vir my 'n lig.
9 Die striemende toorn van die Here sal ek dra – want ek het teen Hom gesondig – totdat Hy my saak verdedig en my reg handhaaf. Hy sal my uitlei na die lig; ek sal sy geregtigheid met genoegdoening ervaar.
10 My vyand sal dit sien en deur skaamte oorval word, sy wat vir my vra: “Waar is die Here jou God?” My oë sal met genoegdoening na haar kyk. Sy sal dan vertrap word soos modder op straat.
11 Dit is tyd om jou verdedigingsmure te herbou, dit is 'n tyd daardie wanneer jou grense uitgebrei sal word.
12 Dit is die tyd wanneer hulle tot by jou sal kom, van Assur en die stede van Egipte, ja, van Egipte tot by die Rivier, van see tot see en berg tot berg.
13 Die aarde sal 'n verlate wildernis word oor sy inwoners, oor die vrug van hulle dade.
14 Pas u volk op met u staf, die kleinvee wat u eiendom is, wat eensaam woon in 'n bos in die middel van 'n vrugbare gebied. Laat hulle in Basan en Gilead wei, soos in die ou tyd.
15 “Soos in die dae toe jy uit Egipteland getrek het, sal Ek hom weer wonderwerke laat beleef.”
16 Die nasies sal dit sien en beskaamd staan, sonder al hulle heldhaftigheid. Hulle sal die hand op die mond lê, hulle ore sal doof word.
17 Hulle sal stof lek soos 'n slang, soos dié wat op die grond seil. Hulle sal sidderend uit hulle kerkers kom; na die Here ons God sal hulle bewend gaan, ja, hulle sal vir U bang wees.
18 Wie is 'n God soos U? U is 'n God wat skuld vergewe, wat by die oortreding verbygaan tot voordeel van die oorblyfsel van sy eiendom, wat nie vir altyd vasklem aan sy toorn nie, maar wat vreugde vind in troue liefde,
19 wat ons weer genadig sal wees, ons skuld sal vertrap. U sal al ons sondes in die dieptes van die see gooi.
20 U sal aan Jakob trou bewys, aan Abraham die troue liefde wat U aan ons voorouers met 'n eed beloof het in die voortyd.