1Profesie oor Nineve. Boek van die openbaring aan Nahum, die Elkosiet.
2Die Here is 'n besitlike God, en Hy wreek Hom. Die Here neem wraak met woede. Die Here wreek Hom op sy teenstanders, Hy is toornig teenoor sy vyande.
3Die Here is geduldig, maar geweldig sterk. Die Here laat beslis niks ongestraf nie. Deur donderstorm en orkaan loop sy pad, wolke is die stof van sy voete.
4Hy berispe die see en laat dit opdroog; al die riviere laat Hy wegdroog. Basan en Karmel verdor, die bloeisels van Libanon verwelk.
5Die berge bewe voor Hom, die heuwels stort ineen. Die aarde lê verwoes voor Hom, ja, die wêreld met al sy bewoners.
6Wie kan staande bly voor sy verontwaardiging, wie kan sy brandende toorn weerstaan? Wanneer sy woede uitbars soos vuur, spat rotse voor Hom uiteen.
7Die Here is goed, 'n toevlugsoord in tye van bedreiging. Hy sorg vir wie by Hom skuil,
8maar met 'n vloedgolf vernietig Hy die stad geheel en al, sy vyande agtervolg Hy tot in die duisternis.
9Wat kan julle teen die Here beplan? Hy rig 'n totale vernietiging aan! Bedreiging sal nie 'n tweede keer toeslaan nie.
10Selfs al word hulle saamgevleg tot 'n doringskerm, en omring deur rankplante, hulle sal verteer word soos stoppels wat heeltemal droog is.
11Uit jou het hy weggetrek, hy wat onheil beraam teen die Here, wat boosheid beplan.
12So sê die Here: “Al was hulle ook in volle sterkte, so baie as wat hulle was, soveel is afgemaai en het verdwyn. ” “Ek het jou verneder, maar Ek sal jou nie weer verneder nie.
13Daarom gaan Ek sy juk breek wat op jou rus, jou stroppe gaan Ek aan stukke ruk.”
14Maar die Here beslis oor jou, koning: “Jou naam sal nie meer voortleef nie. In die huis van jou gode sal Ek die gesnede beelde en gegote beelde vernietig. Ek berei jou graf voor, want jy is onbenullig. ”
15Kyk! Op die berge is die voete van die een wat 'n goeie boodskap bring, wat 'n vredesboodskap laat hoor: “Vier maar jou feeste, Juda! Betaal jou geloftes, want die booswigte sal nooit weer deur jou trek nie; hulle is almal uitgeroei.”