Micah 5
1 “Maar jy, Betlehem-Efrata, al is jy gering in die streke van Juda, uit jou sal daar vir My iemand kom om 'n heerser te wees in Israel. Sy oorsprong is uit die verre verlede, uit die dae van weleer. ”
2 Dit is waarom die Here hulle sal oorgee tot die tyd aanbreek vir 'n swanger vrou om geboorte te skenk. Dan sal die res van sy volksgenote terugkeer saam met die Israeliete.
3 Hy sal optree en as herder lei deur die krag van die Here, deur die grootheid van die Naam van die Here sy God. Hulle sal veilig gevestig wees, want dan sal hy magtig wees tot aan die uithoeke van die aarde.
4 “Hierdie een sal ongedeerd wees. Wanneer Assirië ons land binnekom, sy voete in ons vestings sit, sal ons sewe herders, ja, agt stamhoofde uit die mense teen hulle opstel.
5 Hulle sal die land Assirië met die swaard kaalstroop, die land van Nimrod met dolke. Hy sal ons van Assirië red wanneer hulle ons land binnekom en ons grense oorsteek.
6 Die oorblyfsel van Jakob sal tussen al die nasies wees soos dou wat van die Here kom, soos sagte reën op gras, wat niks van 'n mens verwag nie, geen hoop op mense vestig nie.
7 Die oorblyfsel van Jakob sal tussen die nasies, te midde van baie volke, soos 'n leeu tussen wilde diere wees, soos 'n jong leeu onder 'n trop kleinvee: As hy verbygaan en vertrap en verskeur, is daar niemand wat red nie.
8 Mag jy die oorhand hê oor jou teenstanders; ja, al jou vyande – laat hulle uitgeroei word!”
9 “Op daardie dag,” is die uitspraak van die Here, “sal Ek jou perde wat by jou is, uitdelg, en jou strydwaens vernietig.
10 Ek sal ook die stede in jou land uitdelg en al jou versterkte stede afbreek.
11 Ek sal die towery waarmee jy besig is, uitdelg, en jy sal nie meer waarsêers hê nie.
12 Ek sal jou afgodsbeelde en gedenkstene wat in jou midde is, uitdelg, en jy sal nie meer voor jou eie handewerk in aanbidding buig nie.
13 Ek sal jou asjeras wat in jou midde is, uitruk, en jou stede verwoes.
14 Ek sal in toorn en woede wraak neem op die nasies wat nie luister nie.”