Bible

Power Up

Your Services with User-Friendly Software

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Micah 4

:
Afrikaans - AFR20
1 In die laaste dae sal die berg van die Here se huis stewig staan, as die hoogste van die berge; ja, hy sal bo die heuwels uittroon. Volke sal daarheen stroom,
2 baie nasies sal gaan en sê, ‘Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, sodat Hy ons van sy weë kan leer, en ons op sy paaie kan volg.’ Ja, uit Sion sal daar onderrig kom en die woord van die Here uit Jerusalem.
3 Hy sal regspreek tussen baie volke en die reg handhaaf vir talryke nasies tot in die verste uithoeke. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee, en van hulle spiese snoeimesse. Nasies sal nie meer die swaard teen mekaar opneem nie, hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie;
4 maar elke man sal onder sy wingerd en onder sy vyeboom sit, sonder dat iemand hom opjaag. Die Here, Heerser oor alle magte, het dit immers self gesê.
5 Selfs as al die volke elkeen in die naam van sy god voortgaan, sal óns in die naam van die Here ons God voortleef vir altyd en altyd.
6 ‘Op daardie dag,’ is die uitspraak van die Here, ‘sal Ek die gebreklikes bymekaar maak, die verstrooides versamel, ook hulle wat Ek sleg behandel het.
7 Ek sal die gebreklikes 'n oorblyfsel maak, en dié wat ver weg was, 'n sterk nasie.’ Die Here sal op die berg Sion oor hulle koning wees, van nou af tot in ewigheid.
8 En jy, wagtoring van die kudde, vesting van die dogter van Sion, na jou sal dit kom, ja, die vroeëre heerskappy is op pad die koningskap vir die dogter van Jerusalem.”
9 Waarom skree jy dan nou so hard? Het jy nie meer 'n koning nie? Of het jou raadgewer verdwyn, sodat pyn jou oorval het soos 'n vrou wat geboorte skenk?
10 Krimp ineen en skreeu dit uit, dogter van Sion, soos iemand met geboortepyne! Want nou sal jy die stad moet verlaat en in die veld gaan woon. Jy sal na Babilonië gaan: Daar sal jy gered word; daar sal die Here jou uit die hand van jou vyande verlos.
11 “Maar nou span baie nasies teen jou saam, hulle wat sê, ‘Laat Sion maar ontheilig word; ons sal dit met genoegdoening aanskou.’
12 Húlle weet egter nie wat die Here beplan nie en hulle verstaan nie sy besluite nie, dat Hy hulle soos gerwe op 'n dorsvloer bymekaargemaak het.
13 ‘Staan op en dors die gerwe, dogter van Sion, want Ek maak jou horing van yster en jou hoewe maak Ek van brons. Jy sal baie nasies vertrap! Jy sal hulle buit aan die Here toewy, al hulle rykdom aan die Heer van die hele aarde.
14 Sny jouself maar stukkend, strydlustige vrou! Ons word beleër en die regter van Israel word met 'n stok op die wang geslaan!