Micah 3
1 Maar ek sê: “Luister tog, hoofde van Jakob, •gesagvoerders van die huis van Israel! Is julle nie veronderstel om die reg te ken nie,
2 julle wat die goeie haat en die slegte liefhet, julle wat die mense se velle van hulle afskeur en die vleis van hulle bene;
3 julle wat my volk se vleis eet, hulle velle afstroop en hulle bene stukkend kap, hulle uitmekaarhaal soos in 'n pot, ja, soos vleis in 'n kookpot?”
4 Dan sal hulle na die Here om hulp roep, maar Hy sal hulle nie antwoord nie. In daardie tyd sal Hy sy gesig vir hulle verberg omdat hulle optrede boos was.
5 So sê die Here oor die profete wat my volk mislei, wat vrede verkondig as hulle iets te ete kry; maar as iemand hulle nie iets in die mond stop nie, 'n oorlog teen hom heilig:
6 “ Daarom, dit sal vir julle nag wees, sonder visioene, ja, donker, sonder voorspellings. Die son sal ondergaan vir die profete, die dag sal vir hulle pikdonker wees.
7 Die sieners sal in die skande gesteek word, die voorspellers sal beskaamd staan. Hulle sal almal hulle snorre bedek, omdat daar geen antwoord van God kom nie.”
8 Maar ek, ek is gevul met krag, met die Gees van die Here, met 'n sin vir geregtigheid en die moed, om aan Jakob sy opstand en aan Israel sy sonde bekend te maak:
9 “Luister tog hierna, hoofde van die huis van Jakob en gesagvoerders van die huis van Israel, julle wat regte minag en alles wat reg is, verdraai;
10 julle wat Sion met bloed gebou het en Jerusalem met onreg!
11 Haar leiers spreek 'n oordeel uit vir omkoopgeskenke! Haar priesters gee onderrig teen betaling! Haar profete maak voorspellings vir geld! Hulle steun nogal op die Here en sê, ‘Is die Here nie in ons midde nie? Geen onheil sal ons tref nie!’
12 Daarom, deur julle toedoen sal Sion 'n omgeploegde veld word; Jerusalem sal puinhope word en die tempelberg oorgroeide heuwels.”