Bible

Create

Inspiring Presentations Without Hassle

Try Risen Media.io Today!

Click Here

Micah 1

:
Afrikaans - AFR20
1 Die woord van die Here wat tot Miga van Morêset gekom het in die tyd van Jotam, Agas en Hiskia, die konings van Juda, wat aan hom geopenbaar is oor Samaria en Jerusalem.
2 Luister, alle volke! Let op, aarde en almal wat daarop woon! My Heer, die Here, gaan teen julle getuig, die Heer uit sy heilige paleis.
3 Kyk, die Here kom uit sy woonplek; Hy daal neer en trap op die hoogtes van die aarde.
4 Die berge smelt onder Hom en die valleie skeur oop, soos was wat voor vuur smelt, soos water wat teen 'n berghang afstroom.
5 Oor Jakob se oortreding gebeur al hierdie dinge, oor die sondes van die huis van Israel. “Wie is verantwoordelik vir Jakob se oortreding? Is dit nie Samaria nie? Wie is verantwoordelik vir die offerhoogtes van Juda? Is dit nie Jerusalem nie?
6 Daarom sal Ek van Samaria 'n puinhoop maak, 'n stuk veld vir die aanplant van wingerd. Ek sal haar klippe in die vallei laat afrol, haar fondamente blootlê.
7 Al haar afgodsbeelde sal stukkend geslaan word, alles wat sy verdien het, sal in die vuur verbrand word, al haar afgode sal Ek vernietig; want met die loon van 'n prostituut het sy dit bymekaargemaak, en dit sal weer die verdienste van 'n prostituut word.”
8 Hieroor wil ek weeklaag en huil; ek wil kaalvoet en sonder klere loop; ek wil tjank soos woestynjakkalse en brom soos steenuile;
9 want Samaria se wonde is ongeneeslik, ja, dit strek tot by Juda; dit raak aan die poort van my volk, aan Jerusalem.
10 Moet dit nie in Gat vertel nie, moet glad nie daaroor huil nie! In Bet-Leafra rol hulle in die stof!
11 Trek weg, inwoners van Safir, naak en in skaamte. Die inwoners van Saänan ruk nie op nie. Daar word gerou in Bet-Haesel; Hy neem sy bystand van julle weg.
12 Ja, die inwoners van Marot wag angstig op iets goeds, want die kwaad wat van die Here kom, het afgegaan tot by die poort van Jerusalem.
13 Span die perde voor die strydwa, inwoners van Lagis! Dit was die begin van die dogter van Sion se sonde; ja, in jou is die oortredings van Israel gevind.
14 Daarom moet jy afskeidsgeskenke gee aan Morêset-Gat. Die huise by Agsib sal 'n droë fontein vir die konings van Israel wees.
15 Ek sal weer 'n veroweraar na julle bring, inwoners van Maresa; hy sal tot by Adullam kom. Trots van Israel,
16 skeer jou kop kaal, skeer jou hare af oor jou lieflingkinders; maak die kaal kol so groot soos dié van 'n aasvoël, want hulle sal van jou af weggevoer word in ballingskap.