Job 8AFR20

1Bildad uit Suag het hierop gereageer en gesê:

2“Hoe lank nog gaan jy hierdie dinge beweer? Die woorde van jou mond is bloot 'n groot klomp wind.

3Sal God die reg verdraai, of sal die Almagtige geregtigheid verdraai?

4As jou kinders teen Hom gesondig het, het Hy hulle aan hulle oortreding oorgelaat.

5As jy self God egter ywerig soek en by die Almagtige pleit;

6as jy onbesproke en opreg is, ja, dan sal Hy oor jou waak, dan sal Hy jou regmatige verblyf herstel.

7En al was jou verlede gering, sal jou toekoms baie voorspoedig wees.

8“ Ja, gaan doen maar navraag by die vorige geslag; stel vas wat hulle voorouers reeds noukeurig ondersoek het.

9Ons is immers van gister en ons weet niks nie; ja, ons lewensdae is net 'n skaduwee op aarde.

10Sal húlle jou nie onderrig nie, met jou praat nie, uit hulle harte argumente aanvoer nie?

11Sal papirus hoog groei waar daar nie 'n moeras is nie? Sal oewergras gedy waar daar nie water is nie?

12Dit is nog besig om te groei, is nog nie gesny nie, dan verwelk dit al – voor al die ander grasse.

13So loop die paaie van almal wat van God vergeet: Die hoop van die godloses gaan tot niet –

14hy wat sy hoop vestig op dun spinnerakdrade, wat in 'n spinnerak sy vertroue stel.

15As hy teen sy huis leun, bly dit nie staan nie; as hy daaraan vasgryp, hou dit nie stand nie.

16Hy is 'n plant vol sap in die son, sy ranke brei uit deur sy tuin.

17Sy wortels raak vervleg met kliphope, hy is op die uitkyk vir 'n tuiste van klip.

18As hy uit sy plek gepluk word, verloën sy plek hom met, ‘Ek het jou nie gesien nie.’

19Kyk, dit is die vreugde van sy lewenspad, en uit die grond spruit daar 'n ander een.

20“Kyk, God verwerp nie iemand wat onberispelik optree nie; Hy versterk nie die hand van kwaaddoeners nie.

21Hy sal weer jou mond vul met gelag, jou lippe met 'n vreugdekreet.

22Hulle wat jou haat, sal met skande bedek wees; en die tentwoning van die goddeloses sal nie meer daar wees nie.”

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Job 8.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.