Bible

Engage

Your Congregation Like Never Before

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Job 8

:
Afrikaans - AFR20
1 Bildad uit Suag het hierop gereageer en gesê:
2 “Hoe lank nog gaan jy hierdie dinge beweer? Die woorde van jou mond is bloot 'n groot klomp wind.
3 Sal God die reg verdraai, of sal die Almagtige geregtigheid verdraai?
4 As jou kinders teen Hom gesondig het, het Hy hulle aan hulle oortreding oorgelaat.
5 As jy self God egter ywerig soek en by die Almagtige pleit;
6 as jy onbesproke en opreg is, ja, dan sal Hy oor jou waak, dan sal Hy jou regmatige verblyf herstel.
7 En al was jou verlede gering, sal jou toekoms baie voorspoedig wees.
8 Ja, gaan doen maar navraag by die vorige geslag; stel vas wat hulle voorouers reeds noukeurig ondersoek het.
9 Ons is immers van gister en ons weet niks nie; ja, ons lewensdae is net 'n skaduwee op aarde.
10 Sal húlle jou nie onderrig nie, met jou praat nie, uit hulle harte argumente aanvoer nie?
11 Sal papirus hoog groei waar daar nie 'n moeras is nie? Sal oewergras gedy waar daar nie water is nie?
12 Dit is nog besig om te groei, is nog nie gesny nie, dan verwelk dit al voor al die ander grasse.
13 So loop die paaie van almal wat van God vergeet: Die hoop van die godloses gaan tot niet
14 hy wat sy hoop vestig op dun spinnerakdrade, wat in 'n spinnerak sy vertroue stel.
15 As hy teen sy huis leun, bly dit nie staan nie; as hy daaraan vasgryp, hou dit nie stand nie.
16 Hy is 'n plant vol sap in die son, sy ranke brei uit deur sy tuin.
17 Sy wortels raak vervleg met kliphope, hy is op die uitkyk vir 'n tuiste van klip.
18 As hy uit sy plek gepluk word, verloën sy plek hom met, ‘Ek het jou nie gesien nie.’
19 Kyk, dit is die vreugde van sy lewenspad, en uit die grond spruit daar 'n ander een.
20 “Kyk, God verwerp nie iemand wat onberispelik optree nie; Hy versterk nie die hand van kwaaddoeners nie.
21 Hy sal weer jou mond vul met gelag, jou lippe met 'n vreugdekreet.
22 Hulle wat jou haat, sal met skande bedek wees; en die tentwoning van die goddeloses sal nie meer daar wees nie.”