Job 7
1 “ Is dwangarbeid nie 'n sterfling se lot op aarde nie? Is sy dae nie maar die dae van 'n dagloner nie?
2 Soos 'n slaaf smag hy na skaduwee; soos 'n dagloner wag hy vir sy loon.
3 So het leë maande my erfdeel geword, en is nagte van teenspoed aan my toegewys.
4 As ek gaan lê, dink ek, Wanneer kan ek opstaan? – maar die aand sleur voort. Ek is sat van rusteloos wees, tot die oggendskemer.
5 My liggaam is oortrek van maaiers en 'n kors stof; my vel het verhard en dit bars oop.
6 My dae is vinniger as 'n wewersklos – dit kom tot 'n einde sonder hoop.
7 Dink daaraan dat my lewe maar 'n asem is; my oë sal nie weer iets goeds sien nie.
8 Die oog van die Een wat na my kyk, sal my nie sien nie. U oë sal op my gerig wees, maar ek sal nie daar wees nie.
9 'n Wolk raak tot niet en gaan weg; so is iemand wat na die •doderyk afdaal – hy kom nie weer na bo nie.
10 Hy keer nie weer terug na sy huis nie; sy plek ken hom nie meer nie.
11 “ Op my beurt sal ek my mond nie hou nie. Ek wil praat uit die benoudheid van my gees; ek wil kla uit die bitterheid van my siel!
12 Is ek die see of 'n seemonster, dat U 'n wag oor my aanstel?
13 As ek dink my slaapbank sal my troos, my slaapplek sal my klagte help verlig,
14 dan verskrik U my deur drome, deur naggesigte ontstel U my,
15 sodat ek versmoring verkies, die dood verkies bo hierdie liggaam van my.
16 Ek gee oor; ek sal nie vir altyd leef nie. Laat my met rus, want my dae is net 'n asemteug!
17 “ Wat is 'n sterfling, dat U hom so belangrik ag, dat U aan hom aandag gee,
18 hom elke môre besoek, hom elke oomblik toets?
19 Hoe lank nog gaan U nie van my af wegkyk nie, gaan U my nie alleen laat nie – net tot ek my speeksel ingesluk het?
20 Het ek gesondig? Wat het ek U aangedoen, Bewaker van mense? Waarom stel U my as 'n teiken vir U op? Het ek vir U 'n las geword?
21 Waarom vergewe U nie my oortreding nie, skeld U nie my sondeskuld kwyt nie? Want binnekort sal ek in die stof lê; U sal op die uitkyk wees vir my, maar ek sal nie daar wees nie.”