Job 6
1 Job het hierop gereageer en gesê:
2 “As my leed maar net geweeg kon word, my rampspoed daarmee saam op 'n weegskaal geplaas kon word,
3 want dan sou dit swaarder wees as die sand van die oseane. Daarom is my woorde ondeurdag.
4 Ja, die pyle van die Almagtige is in my, sodat my gees die gif daarvan drink. Die verskrikkinge van God neem teen my stelling in.
5 Balk 'n wilde donkie by groen gras, of bulk 'n bees by sy voer?
6 Word smaaklose kos sonder sout geëet, of is daar smaak in die slym van heemswortel?
7 My keel wil dit nie afsluk nie. Ek het 'n afkeer daarvan, asof dit onrein kos vir my is.
8 “ Ag, as my wens tog maar vervul word! Mag God dit gee waarvoor ek hoop –
9 dat God bereid sal wees om my te verpletter! Mag Hy sy hand loslaat en my van die lewe afsny!
10 Dit sal vir my weer vertroosting bring; ondanks die pyn sal ek opspring van vreugde. Hy mag nie deernis betoon nie, want ek het die woorde van die Heilige nie verberg nie.
11 Hoeveel krag het ek oor, dat ek sou wag? Wat is my einddoel, dat ek my lewe sou wou verleng?
12 Is my krag die krag van klippe? Of is my liggaam van brons?
13 Is dit nie so dat ek myself nie kan help nie, dat my vindingrykheid van my weggedryf is nie?
14 “ Iemand wat in wanhoop verkeer, kan reken op die troue liefde van sy vriend, selfs al gee hy ontsag vir die Almagtige prys.
15 Maar my metgeselle is so bedrieglik soos 'n nie-standhoudende spruit, soos die beddings van spruite wat wegvloei –
16 hulle is troebel van ys; sneeu is in hulle weggesteek.
17 Met die tyd droog hulle op, hulle sypel weg. Wanneer dit warm word, verdwyn hulle van waar hulle was,
18 hulle tas na die roetes wat hulle moet volg; hulle loop hulle vas in onherbergsaamheid en gaan tot niet.
19 Karavane van Tema is op die uitkyk, reisigers van Skeba wag vir hulle,
20 maar staan beskaamd, want hulle het gehoop dat hulle water sou kry; hulle het tot daar gekom, maar staan verleë.
21 “Ja, nou het julle so geword – julle sien 'n verskrikking en raak vreesbevange.
22 Het ek dalk gesê, ‘Gee my iets! Gee volgens julle vermoë vir my 'n geskenk!
23 Bevry my uit die hand van teenstanders! Uit die hand van geweldenaars moet julle my vrykoop!’?
24 “Onderrig my, ek sal stilbly; wat ek verkeerd gedoen het, verduidelik dit vir my!
25 Hoe kan opregte woorde krenkend wees? En hoe kan 'n teregwysing van julle kant af hoegenaamd teregwys?
26 Beplan julle om met woorde tereg te wys, maar die woorde van 'n wanhopige beskou julle bloot as wind?
27 Selfs oor 'n vaderlose kind sal julle die lot werp, en julle vriend verhandel.
28 Wees dan nou bereid om na my te kyk. Ek sal beslis nie in julle gesigte lieg nie.
29 Draai tog om! Laat daar nie onreg wees nie! Draai om! Ek het steeds die reg aan my kant, ondanks die onreg.
30 Is daar op my tong enige onreg? Of kan my verhemelte nie rampspoed eien nie?