1“Roep maar! Sal daar iemand wees wat jou antwoord? Tot wie van die heiliges sal jy jou wend?
2Want ergernis lei tot die dood van 'n sot, en naywer laat die onverstandige sterf.
3Ek self het 'n sot sien wortel skiet, maar skielik kon ek sy tuiste in 'n vloek gebruik.
4Sy kinders is ver van veiligheid; hulle word vertrap in die stadspoort, en niemand kan hulle red nie.
5Dit wat hy geoes het, word deur hongeres verteer; selfs uit die dorings gaan haal hulle dit; en dorstiges smag na hulle besittings.
6Ja, onheil kom nie voort uit die stof nie, en teenspoed spruit nie uit die grond nie;
7maar die mens is vir teenspoed gebore, soos vonke na bo vlieg.
8“Ek, daarenteen, sou God raadpleeg, aan God sou ek my saak voorlê,
9aan Hom wat groot en ondeurgrondelike dinge, ontelbare wonders, doen –
10Hy wat reën gee oor die aarde, wat water uitstuur oor die oop veld,
11om nederiges op die hoogte te plaas, en hulle wat rou, veilig te maak in die hoogte,
12Hy wat die planne van listiges verydel, sodat hulle hande niks suksesvol uitrig nie,
13Hy wat wyses met hulle eie slinksheid vang, sodat die planne van geslepenes vinnig tot 'n einde kom.
14Oordag stuit hulle op die donker; teen die middag tas hulle rond asof dit in die nag is.
15Hy verlos 'n behoeftige uit die mag van sterkes, van die swaard in hulle monde.
16So is daar vir armes hoop, en ongeregtigheid hou die mond toe.
17“ Kyk, gelukkig is die mens vir wie God teregwys; die tugtiging van die Almagtige – moet dit nie verwerp nie!
18Want Hy is die een wat pyn veroorsaak, maar ook verbind, Hy verbrysel, maar sy hande genees ook.
19Uit ses benoudhede sal Hy jou red, in sewe sal boosheid jou nie aantas nie.
20In hongersnood sal Hy jou loskoop van die dood, in 'n geveg, uit die mag van die swaard.
21Wanneer die tong gesel, word jy weggesteek; jy hoef nie te vrees vir verwoesting wanneer dit kom nie.
22Vir verwoesting en honger sal jy lag; vir die wilde diere van die aarde sal jy nie bang wees nie.
23Want met die klippe van die veld het jy 'n verbond; die diere van die veld handhaaf vrede met jou.
24Jy sal dit beleef dat jou tent veilig is; en as jy voorraad neem op jou weiveld, vermis jy niks.
25Jy sal dit beleef dat jou nageslag baie is; jou nakomelinge sal wees soos die plante van die aarde.
26Jy sal in volle lewenskrag na die graf gaan, soos gerwe op hulle tyd na die dorsvloer gaan.
27Kyk, dit is wat ons ondersoek het; so is dit. Luister daarna! Beleef dit self!”