1Elifas uit Teman het hierop gereageer en gesê:
2“Kan mens 'n woord na jou kant toe waag? Sal jy ontstemd raak? Maar woorde terughou – wie kan dit doen?
3Kyk, jy het baie mense tereggewys; slap hande het jy sterk gemaak.
4Jou woorde het die een wat struikel, regop gehelp; wankelrige knieë het jy stewig gemaak.
5Maar noudat dit jou oorkom, is jy ontstemd; noudat dit jou tref, is jy ontsteld.
6Is jou ontsag vir God dan nie dit waarop jy staatmaak nie? Is jou hoop nie gevestig op jou onberispelike optrede nie?
7Dink tog daaraan: Wie het, terwyl hy onskuldig is, omgekom? Waar is opregtes al uitgewis?
8Wat ek waargeneem het, is: Wie onreg inploeg en teenspoed saai, oes dit ook.
9Deur die asem van God kom hulle om, deur die wind uit sy neus gaan hulle tot niet.
10Daar is die gebrul van 'n leeu, die stem van 'n maanhaar, maar die tande van jong leeus word gebreek.
11By gebrek aan prooi kom die leeumannetjie om, die welpies van die leeuwyfie raak verstrooi.
12“Na my toe het 'n woord in die geheim gekom; my oor het die fluistering daarvan opgevang.
13Te midde van verontrustende gedagtes in naggesigte, terwyl 'n diep slaap mense oorval,
14het vrees en bewing my beetgepak en my hele liggaam laat sidder.
15'n Gees het langs my verbygegaan, dit het die hare op my lyf laat rys.
16Hy het gaan staan, maar ek kon nie sy voorkoms herken nie; die gedaante was reg voor my oë. 'n Fluisterende stem is wat ek gehoor het,
17‘Kan 'n mens regverdiger as God wees, of kan 'n man reiner as sy Maker wees?
18Kyk, as Hy selfs in sy dienaars nie sy vertroue stel nie, en sy boodskappers blameer vir dwaling,
19hoeveel te meer geld dit dan hulle wat in huise van klei woon, met fondamente in die stof? Vinniger as 'n mot word hulle platgetrap.
20Tussen dagbreek en sononder word hulle verpletter; sonder dat dit opgemerk word, kom hulle vir ewig om.
21Word hulle tenttoue nie losgemaak nie? Hulle sterf – sonder wysheid.’