Job 3AFR20

1Daarna het Job sy mond oopgemaak en sy geboortedag vervloek.

2Job het toe begin praat en gesê:

3“ Mag die dag waarop ek gebore is, vergaan, en die nag wat gesê het, ‘'n Seun is verwek.’

4Daardie dag – mag dit donker wees; mag God daar bo nie daarna vra nie, mag 'n ligglans nie daaroor skyn nie.

5Mag donker, ja, stikdonkerte dit opeis, mag wolke daarop toesak; mag 'n verduistering van die dag dit verskrik.

6Daardie nag – mag 'n diepe duisternis dit in besit neem; mag dit nie verskyn onder die dae van 'n jaar nie, nie in die getal van die maande voorkom nie.

7Juis daardie nag – mag dit onvrugbaar wees, mag uitroepe van vreugde nie daarin opklink nie.

8Mag hulle wat dae vervloek, dit verdoem, hulle wat die kuns verstaan om Leviatan wakker te maak.

9Mag die sterre van dié dag se oggendskemering verduister, mag dit wag op lig, en daar is niks nie; mag dit die wimpers van die dagbreek nie sien nie,

10omdat dit die deure van my moeder se skoot nie gesluit het nie, nie teenspoed vir my oë verberg het nie.

11“ Waarom is ek nie dood by geboorte nie? Waarom het ek nie gesterf toe ek uit die moederskoot gekom het nie?

12Hoekom het knieë my ontvang; hoekom was daar borste, dat ek kon drink?

13Ja, anders sou ek nou kon lê en in vrede rus, ek sou kon slaap. Daar sou vir my rus wees

14by konings en die raadsmanne van die wêreld, dié wat vir hulleself puinhope herbou het,

15of by •hoë amptenare wat goud besit het, wat hulle huise met silwer gevul het.

16Of soos 'n weggesteekte misgeboorte, sou ek nie bestaan het nie, soos kinders wat nie die lig gesien het nie.

17Daar hou goddeloses op met die gewerskaf; daar vind dié wie se kragte uitgeput is, rus.

18Gevangenes is saam kommervry, hulle hoor nie meer die stem van die slawedrywer nie.

19Klein en groot is daar, die slaaf is vry van sy baas.

20“ Waarom gee God die lig aan iemand wat hom moet afsloof? Waarom gee Hy die lewe aan mense met verbitterde siele,

21wat wag vir die dood, maar dit kom nie; hulle wat dieper daarna delf as na verborge skatte;

22hulle wat van vreugde juig, wat hulle verheug wanneer hulle die graf vind.

23Waarom gee Hy die lewe aan 'n man wie se pad verborge is, vir wie God aan alle kante afgesper het?

24Ja, nog voor my brood, daag my gesug op; my geskreeu stroom soos water.

25As ek vrees vir 'n verskrikking, dan kom dit my oor; dit waarvoor ek bang is, oorval my.

26Ek kan nie rus vind nie, nie tot rus kom nie; ek kry geen verposing nie. Die onrus daag telkens op.”

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Job 3.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.