Job 39AFR20

1“Kan jy vir 'n leeuwyfie prooi jag, die honger van jong leeus bevredig

2wanneer hulle in lêplekke hurk, onder 'n blaredak gereed sit vir die hinderlaag?

3Wie voorsien aan die kraai sy kos wanneer sy kuikens aanhoudend na God roep, ronddwaal sonder kos?

4“Ken jy die tyd wanneer klipbokke lam? Het jy dit al aanskou wanneer rooitakbokooie lammers voortbring?

5Tel jy die maande wat hulle dragtig is; ken jy die tyd wanneer hulle lam?

6Hulle hurk en bring hulle lammers voort; hulle laat hulle ongebore nageslag vry.

7Hulle lammers word sterk, groei op in die oop veld, gaan weg en kom nie weer na hulle terug nie.

8“ Wie het die wildedonkie vry laat rondloop? Die stroppe van die wilde-esel, wie het dit losgemaak,

9die een vir wie Ek die Araba as sy tuiste bestem het, en brak grond as sy verblyfplekke?

10Hy lag vir die rumoer van die stad; die geskreeu van 'n drywer hoor hy nie.

11Hy verken die berge vir weiding; hy soek alles wat groen is.

12“Sal die buffel instem om vir jou te werk, of sal hy by jou voerkrip oornag?

13Kan jy 'n buffel bind aan 'n ploegvoor met sy leiriem, of sal hy die leegtes wat agter jou lê, eg?

14Kan jy hom vertrou, terwyl sy krag so groot is, of aan hom jou swaar verdiende oes oorlaat?

15Vertrou jy hom dat hy sal terugkom met jou graan, en dit op jou dorsvloer sal bymekaarmaak?

16“ Die vlerke van 'n volstruiswyfie klap uitgelate. Is die penvere van haar vlerke dié van 'n ooievaar of kleinvalk?

17Want sy los haar eiers op die grond, en in die stof hou sy dit warm.

18Sy vergeet dat 'n voet dit kan stukkend trap, dat 'n wilde dier dit kan breek.

19Sy behandel haar kuikens sleg, asof hulle nie haar eie is nie; oor haar vergeefse moeite, is sy nie ontsteld nie.

20Want God het haar van wysheid laat vergeet, haar nie met insig bedeel nie.

21Maar sodra sy opspring, lag sy vir die perd en sy ruiter.

22“Gee jy vir die perd krag, klee jy sy nek met maanhare?

23Laat jy hom tril soos treksprinkane? Sy trotse geproes is 'n verskrikking.

24Hy kap die grond met geweld en is opgewonde oor sy krag. Hy gaan uit, die stryd tegemoet.

25Hy lag vir vrees en raak nie verskrik nie; hy draai nie om vir die swaard nie.

26Langs hom ratel die pylkoker, die lem van 'n vegspies en 'n kromswaard.

27Onstuimig jaag hy met 'n gedruis 'n stuk aarde af; hy staan nie stil wanneer die •ramshoring opklink nie.

28Met elke skal van die ramshoring sê hy, ‘Aha!’ en van ver af ruik hy die geveg – die gebulder van bevelvoerders en die krygsgeskreeu.

29“ Is dit aan jou insig te danke dat die kleinvalk sweef, sy vlerke in die suidewind oopsprei?

30Of is dit op jou bevel dat die arend so hoog opstyg, en sy nes so hoog bou?

31'n Rots bewoon hy, en hy bring die nag daar deur – op 'n rotspunt en 'n bergvesting.

32Van daar is hy op die uitkyk vir kos, in die verte tuur sy oë.

33Sy kuikens slurp bloed op, waar gesneuweldes is, daar is hy.”

34Die Here het Job geantwoord en gesê:

35“ Wil die een wat vermaan, met die Almagtige 'n regstryd voer? Laat hy wat God wil teregwys, hierop antwoord.”

36Job het die Here geantwoord; hy het gesê:

37“ Kyk, ek is te onbelangrik – wat sou ek U antwoord? My hand lê ek op my mond.

38Een keer het ek gepraat, maar ek sal nie weer reageer nie – ook 'n tweede keer, maar ek sal nie weer nie.”

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Job 39.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.