Job 38
1 Die Here het Job uit 'n stormwind geantwoord; Hy het gesê:
2 “ Wie is hierdie een wat 'n plan vertroebel met woorde sonder kennis?
3 Omgord maar jou heupe soos 'n man! Ek sal jou ondervra, lig jy My dan in!
4 Waar was jy toe Ek die fondamente van die aarde gelê het? Maak dit bekend as jy die insig verwerf het!
5 Wie het die afmetings daarvan bepaal? Sê as jy dit weet! Of wie het 'n maatband daaroor gespan?
6 Waarop is sy voetstukke ingesink? Of wie het die hoeksteen daarvan gelê
7 terwyl die oggendsterre saam gejubel, en al die hemelwesens gejuig het?
8 Wie het met dubbeldeure die see ingeperk toe dit uitgebreek, uit die baarmoeder voortgekom het,
9 toe Ek wolke sy bokleed gemaak, en hom in 'n diepe duisternis toegedraai het,
10 toe Ek my grens bo hom oopgebreek het, en 'n sluitbalk en dubbeldeure in plek geplaas het,
11 en toe Ek gesê het, ‘Tot hier mag jy kom, maar nie verder nie; hier word my grens geplaas teen jou trotse golwe! ’?
12 “ Het jy op enige van jou lewensdae 'n opdrag aan die oggend gegee, vir die rooidag sy plek aangewys
13 deur die some van die aarde vas te vat, sodat goddeloses daarvan afgeskud word?
14 Die aarde verander soos klei onder 'n rolseël, sodat alles vorm kry soos 'n bokleed.
15 Goddeloses word van hulle lig ontneem, en 'n opgehefde voorarm word gebreek.
16 “Het jy al gekom tot by die bronne van die see, en in die onbekende dele van die diep waters rondgeloop?
17 Is die poorte van die dood vir jou blootgelê, en die poorte van die pikdonkerte – het jy dit gesien?
18 Het jy al ag geslaan op die uitgestrektheid van die aarde? Vertel, as jy dit alles weet!
19 Waar is die pad na waar die lig woon; en die donker, waar is sy plek,
20 dat jy hom na sy gebied kan neem, en die paaie na sy tuiste onderskei?
21 Jy moet dit weet, want jy was toe al gebore, en die getal van jou lewensdae is baie!
22 “ Het jy al in die voorraadkamers van die sneeu ingegaan, en die voorraadkamers van die hael – het jy dit al gesien,
23 dit wat Ek gereedhou vir 'n tyd van angs, vir die dag van stryd en oorlog?
24 Waar is die pad na waar die weerlig verdeel word, na waar die oostewind dit oor die aarde versprei?
25 Wie het vir die vloedwaters 'n voor oopgekloof, 'n pad vir die harde donderslae,
26 om dit te laat reën op 'n land sonder mense, op 'n woestyn waarin daar geen mens is nie,
27 om so die wildernis en woesteny te versadig, en groen grasspriete te laat uitspruit?
28 Het die reën 'n vader, of wie het geboorte gegee aan die doudruppels?
29 Uit wie se moederskoot het die ys te voorskyn gekom, en die ysryp uit die hemel – wie het daaraan geboorte gegee,
30 wanneer water asof in klip skuilgaan, en die oppervlakte van die diep waters dig sluit?
31 “ Kan jy die koorde van die Sewester knoop, of die bande van Orion losmaak?
32 Kan jy 'n sterrebeeld uitlei op sy tyd, die Beer met haar kleintjies begelei?
33 Ken jy die wette van die hemelruim, kan jy die invloed daarvan op die aarde vasstel?
34 Kan jy jou stem na die wolke rig, sodat 'n watervloed jou bedek?
35 Kan jy weerligte vrylaat, sodat hulle gaan en vir jou sê, ‘Hier is ons!’?
36 Wie plaas wysheid in die wit wolke, of wie gee insig aan die wolke wat wegdryf?
37 Wie kan met wysheid die wolkemassa aftel, en die waterkruike van die hemel – wie keer hulle om,
38 wanneer die grond soos gegote metaal verhard, en die kluite saamklont?