1Die Here het Job uit 'n stormwind geantwoord; Hy het gesê:
2“ Wie is hierdie een wat 'n plan vertroebel met woorde sonder kennis?
3Omgord maar jou heupe soos 'n man! Ek sal jou ondervra, lig jy My dan in!
4Waar was jy toe Ek die fondamente van die aarde gelê het? Maak dit bekend as jy die insig verwerf het!
5Wie het die afmetings daarvan bepaal? Sê as jy dit weet! Of wie het 'n maatband daaroor gespan?
6Waarop is sy voetstukke ingesink? Of wie het die hoeksteen daarvan gelê
7terwyl die oggendsterre saam gejubel, en al die hemelwesens gejuig het?
8Wie het met dubbeldeure die see ingeperk toe dit uitgebreek, uit die baarmoeder voortgekom het,
9toe Ek wolke sy bokleed gemaak, en hom in 'n diepe duisternis toegedraai het,
10toe Ek my grens bo hom oopgebreek het, en 'n sluitbalk en dubbeldeure in plek geplaas het,
11en toe Ek gesê het, ‘Tot hier mag jy kom, maar nie verder nie; hier word my grens geplaas teen jou trotse golwe! ’?
12“ Het jy op enige van jou lewensdae 'n opdrag aan die oggend gegee, vir die rooidag sy plek aangewys
13deur die some van die aarde vas te vat, sodat goddeloses daarvan afgeskud word?
14Die aarde verander soos klei onder 'n rolseël, sodat alles vorm kry soos 'n bokleed.
15Goddeloses word van hulle lig ontneem, en 'n opgehefde voorarm word gebreek.
16“Het jy al gekom tot by die bronne van die see, en in die onbekende dele van die diep waters rondgeloop?
17Is die poorte van die dood vir jou blootgelê, en die poorte van die pikdonkerte – het jy dit gesien?
18Het jy al ag geslaan op die uitgestrektheid van die aarde? Vertel, as jy dit alles weet!
19Waar is die pad na waar die lig woon; en die donker, waar is sy plek,
20dat jy hom na sy gebied kan neem, en die paaie na sy tuiste onderskei?
21Jy moet dit weet, want jy was toe al gebore, en die getal van jou lewensdae is baie!
22“ Het jy al in die voorraadkamers van die sneeu ingegaan, en die voorraadkamers van die hael – het jy dit al gesien,
23dit wat Ek gereedhou vir 'n tyd van angs, vir die dag van stryd en oorlog?
24Waar is die pad na waar die weerlig verdeel word, na waar die oostewind dit oor die aarde versprei?
25Wie het vir die vloedwaters 'n voor oopgekloof, 'n pad vir die harde donderslae,
26om dit te laat reën op 'n land sonder mense, op 'n woestyn waarin daar geen mens is nie,
27om so die wildernis en woesteny te versadig, en groen grasspriete te laat uitspruit?
28Het die reën 'n vader, of wie het geboorte gegee aan die doudruppels?
29Uit wie se moederskoot het die ys te voorskyn gekom, en die ysryp uit die hemel – wie het daaraan geboorte gegee,
30wanneer water asof in klip skuilgaan, en die oppervlakte van die diep waters dig sluit?
31“ Kan jy die koorde van die Sewester knoop, of die bande van Orion losmaak?
32Kan jy 'n sterrebeeld uitlei op sy tyd, die Beer met haar kleintjies begelei?
33Ken jy die wette van die hemelruim, kan jy die invloed daarvan op die aarde vasstel?
34Kan jy jou stem na die wolke rig, sodat 'n watervloed jou bedek?
35Kan jy weerligte vrylaat, sodat hulle gaan en vir jou sê, ‘Hier is ons!’?
36Wie plaas wysheid in die wit wolke, of wie gee insig aan die wolke wat wegdryf?
37Wie kan met wysheid die wolkemassa aftel, en die waterkruike van die hemel – wie keer hulle om,
38wanneer die grond soos gegote metaal verhard, en die kluite saamklont?