Job 40
1 Die Here het Job uit 'n stormwind geantwoord; Hy het gesê:
2 “ Omgord maar jou heupe soos 'n man! Ek sal jou ondervra, lig jy My dan in!
3 Wil jy werklik my beslissings dwarsboom, My skuldig verklaar, sodat jy gelyk kan hê?
4 Of het jy 'n arm soos dié van God? Kan jy soos Hy jou stem laat donder?
5 Tooi jou dan met majesteit en aansien; klee jou met luister en glans.
6 Laat jou woedebuie oral uitbars; sien elkeen raak wat verwaand is en verneder hom.
7 Sien elkeen raak wat verwaand is en dwing hom op sy knieë. Vertrap goddeloses net daar waar hulle is.
8 Verberg hulle saam in die stof. Hou hulle gevange in die verborgene.
9 Selfs Ek sal jou dan prys, omdat jou regterhand jou te hulp gekom het.
10 “Kyk na Behemoot, wat Ek gemaak het, soos Ek jou ook gemaak het. Hy eet gras soos 'n bees.
11 Kyk na die krag in sy kruis. En sy manlike krag, dit is in die spiere van sy buik.
12 Hy maak sy stert styf soos 'n seder, die senings van sy dye is ineengevleg.
13 Sy gebeente is bronspype, sy bene soos ysterstawe.
14 Hy is die voortreflikste van God se werke; Hy wat hom gemaak het, het sy swaarde verskaf.
15 Ja, die opbrengs van die berge word na hom aangedra, daar waar al die diere van die veld baljaar.
16 Onder lotusbome lê hy, in 'n skuilplek van riete en moeras.
17 Lotusbome bedek hom met skaduwee; rivierwilgers omring hom.
18 Kyk, die rivier kan maar afkom, hy gee nie haastig pad nie; hy bly rustig, al stu die Jordaan teen sy bek.
19 Sal iemand hom aan sy oë beetpak, met stokke sy neus deurboor?
20 “Kan jy 'n leviatan aan 'n hoek intrek, met 'n tou sy tong onder bedwang bring?
21 Kan jy 'n biesie deur sy neus sit, met 'n doring sy wang deurboor?
22 Sal hy baie smeekbedes tot jou rig, of saggies met jou praat?
23 Sal hy 'n ooreenkoms met jou sluit, dat jy hom as lewenslange slaaf neem?
24 Kan jy met hom speel soos met 'n voël, hom vasbind vir jou dogters?
25 Sal handelsvennote oor hom onderhandel, hom tussen handelaars verdeel?
26 Kan jy sy vel vol harpoene steek, en sy kop vol visspiese?
27 As jy jou hand op hom plaas, sal jy die geveg onthou; jy sal dit nie weer doen nie.
28 Kyk, enige verwagting om hom te vang, is misplaas. Sal selfs net sy voorkoms nie 'n mens laat neerslaan nie?