Job 35
1 Elihu het toe voortgegaan en gesê:
2 “Dink jy dit is reg as jy sê, ‘Ek, eerder as God, het gelyk!’?
3 Ja, jy sê, ‘Watter nut het dit vir U? Wat baat dit my as ek nie sondig nie?’
4 Ek sal jou daarop antwoord, jou en jou vriende.
5 Kyk na die hemel en sien! Aanskou die wolkehemel! Dit is hoër as jy.
6 As jy sondig, wat doen dit aan Hom? As jou oortredinge baie is, wat veroorsaak jy vir Hom?
7 As jy regverdig is, wat gee jy vir Hom, of wat ontvang Hy uit jou hand?
8 Jou oortreding raak net 'n mens soos jy, jou regverdigheid net 'n mensekind.
9 “ Omdat daar soveel verdrukking is, roep mense om hulp; aanhoudend roep hulle oor die krag van magtiges,
10 maar wat hulle nie sê nie, is, ‘Waar is God, my Maker, Hy wat lofsange gee in die nag,
11 Hy wat ons onderrig, meer as die diere van die aarde, en ons slim maak, meer as die voëls van die hemel?’
12 Dan roep hulle om hulp oor die hoogmoed van slegte mense, maar Hy antwoord nie.
13 Na 'n leë geroep luister God egter nie; die Almagtige slaan nie daarop ag nie.
14 Hoeveel minder nog wanneer jy sê dat jy Hom nie sien nie, dat die regsaak voor Hom is, maar dat jy steeds op Hom wag?
15 Maar nou, omdat sy toorn nie verantwoording eis nie, en Hy nie veel ag slaan op oortreding nie,
16 het Job sy mond vol onsin, vermeerder hy woorde sonder kennis.”