1Elihu het voortgegaan en gesê:
2“Wees nog 'n rukkie geduldig met my, sodat ek jou kan onderrig. Want daar is nog meer te sê oor God.
3Ek sal my kennis ver gaan haal, en ek sal erkenning gee aan die geregtigheid van my Maker.
4Ja, dit staan vas: My woorde is nie leuens nie; iemand met volmaakte kennis is hier by jou.
5Kyk, God is magtig, maar Hy verwerp niemand nie – magtig, met 'n hart wat sterk is.
6Hy hou goddeloses nie aan die lewe nie, maar die reg van magteloses handhaaf Hy.
7Hy wend van regverdiges sy oë nie af nie, maar saam met konings laat Hy hulle vir altyd op die troon sit, sodat hulle verhewe is.
8“En as mense met kettings geboei is, gevange geneem is met toue van verdrukking,
9dan hou Hy hulle dade aan hulle voor, ook hulle oortredinge – dat hulle hulle magtig voorgedoen het.
10Hy maak hulle ore oop vir teregwysing, en gee opdrag dat hulle moet wegdraai van onreg.
11As hulle gehoorsaam is en Hom dien, sal hulle hulle dae afsluit in voorspoed, hulle lewensjare met wat aangenaam is.
12Maar as hulle nie luister nie, sal hulle die rivier oorsteek, en sal hulle sterf asof sonder enige kennis.
13Hulle wat oortuigde godloses is, hoop toorn op; hulle roep nie aanhoudend om hulp nie, selfs al boei Hy hulle.
14Hulle lewens kom op 'n jong ouderdom tot 'n einde – hulle lewens by manlike tempelprostitute.
15Hy red magteloses deur hulle verdrukking; Hy maak deur beproewing hulle ore oop.
16“ Meer nog, Hy het jou weggelok uit die kake van benoudheid; 'n onbeperkte ruimte is in die plek daarvan – die rustigheid van jou tafel vol ryk kos.
17Jy is vol oordeel oor goddeloses; oordeel en vonnis is jou voorland.
18Ja, pasop dat jy nie deur oorvloed mislei word nie; die grootte van 'n omkoopgeskenk moet jou nie verlei nie.
19Sal jou rykdom en al die inspanning van jou kragte vir jou 'n front vorm, sodat jy nie in nood verkeer nie?
20Moenie smag na die nag, om mense uit hulle blyplek te verwyder nie.
21Pasop! Moet jou nie tot onreg wend nie; want dit is die rede waarom jy deur verdrukking getoets word.
22Kyk, God is verhewe deur sy krag. Wie is 'n leermeester soos Hy?
23Wie het Hom al tot verantwoording geroep oor sy optrede? Wie het al gesê, ‘U het onreg gepleeg!’?
24“Onthou dat jy sy werk, wat deur mense besing word, moet verheerlik.
25Die hele mensdom aanskou dit met vreugde; sterflinge kyk van ver af daarna.
26Kyk, God is verhewe – ons kan dit nie eers bedink nie; die getal van sy jare – dit kan nie nagespeur word nie.
27Want Hy trek druppels water op; dit word vir sy ondergrondse rivier oorgeskink tot reënwater
28wat die wolke uitstort, wat hulle oorvloedig laat drup op die mense.
29Verder, verstaan mens die uitbult van 'n wolkbank, die donderslae uit die hut van God?
30Kyk, Hy sprei sy weerlig oor die wolkbank uit; die wortels van die see bedek Hy.
31Ja, daarmee oordeel Hy volke; so gee Hy ook kos in oorvloed.
32Albei sy hande is vol weerlig, en Hy beveel dit om die teiken te tref.
33Sy donderende stem kondig die storm aan, ook die vee vertel dat dit nader kom.