Job 31AFR20

1“ Ek het 'n verbond met my oë gesluit – hoe sou ek dan aandag gee aan 'n jongmeisie?

2Watter erfdeel is daar van God daar bo, watter erfenis van die Almagtige in die hoogtes?

3Is dit nie teenspoed vir 'n boosdoener, en rampe vir wie onreg pleeg nie?

4Sien Hy dan nie my paaie nie; en al my treë, tel Hy dit nie?

5As ek vals sou optree, en my voete hulle na bedrog haas –

6laat God my dan weeg op 'n onvervalste skaal, sodat Hy van my onberispelike optrede kan kennis neem.

7As my voetstappe sou afwyk van die pad, as my hart my oë gevolg het, en daar aan my handpalms 'n smet gekleef het,

8laat ek dan maar saai en laat 'n ander dit eet, laat wat vir my uitspruit, ontwortel word.

9As my hart hom laat verlei het by 'n vrou, ek by die deur van my medemens op loer was,

10laat my vrou dan vir iemand anders meel maal; laat ander mans oor haar buig.

11Want dit is 'n skanddaad, dit is strafbare sondeskuld;

12ja, dit is 'n vuur wat tot in die onderwêreld verteer; dit sou my hele oes ontwortel.

13As ek die regte van my slaaf en slavin misken het in hulle geskil met my,

14wat sal ek dan doen as God opstaan? En as Hy my tot verantwoording roep, wat sal ek antwoord?

15Het Hy, wat my in die moederskoot gemaak het, hulle nie ook gemaak nie? Het Een ons nie in die baarmoeder voorberei nie?

16As ek armes dit wat hulle begeer, ontsê het, die oë van 'n weduwee laat verdof het,

17my stukkie brood alleen geëet het, en as vaderlose kinders nie daarvan geëet het nie

18– van my jeug af het hulle immers by my grootgeword soos by 'n vader, en van die moederskoot af het ek weduwees gelei –

19as ek 'n sukkelaar sou sien sonder 'n bokleed, of 'n behoeftige sonder enige bedekking,

20as sy lyf nie dankbaar sou wees teenoor my, hy hom nie met die skeersel van my jongskaap sou warm maak nie,

21as ek my hand teen 'n vaderlose kind gelig het, omdat ek in die stadspoort gemerk het dat ek ondersteuning geniet,

22kan my bo-arm maar uit die skouer val, my voorarm maar uit die elmboog gebreek word.

23Want die teenspoed wat van God kom, is vir my 'n verskrikking; teen sy majesteit is ek nie opgewasse nie.

24As ek my vertroue gestel het in goud, vir fyngoud gesê het, ‘My veilige toevlug!’

25as ek my verbly het oor my groot rykdom, ja, omdat my hande geweldig baie bereik het;

26as ek na die son gekyk het hoe dit skyn, en na die maan wat met grootsheid beweeg,

27sodat my hart in die geheim verlei is, en my hand na my mond gebring is vir 'n soen,

28sou dit ook 'n strafbare sondeskuld wees, omdat ek God daarbo sou verloën.

29As ek my verheug het oor die rampspoed van die een wat my haat, of uitbundig was toe die ellende hom getref het,

30het ek nie my mond toegelaat om sonde te doen deur sy lewe te eis met 'n vervloeking nie.

31As die manne van my huishouding darem nie gesê het nie, ‘Wie kan iemand uitwys wat nie van sy vleiskos versadig is nie?’!

32'n •Vreemdeling sou nie buite oornag nie; my deure na die pad toe het ek altyd oopgehou.

33As ek, soos ander mense, my oortredinge verberg het deur my sondeskuld in my binnesak weg te steek,

34omdat ek bang was vir 'n groot menigte, en die minagting van familiegroepe my afgeskrik het, dan sou ek swyg, sou ek nie by die deur uitgaan nie.

35“ As daar maar iemand was wat na my luister! Hier is my teken. Die Almagtige moet my antwoord! As daar maar 'n klagskrif was wat my teenstander geskryf het,

36sou ek dit beslis op my skouer gedra het, as 'n kosbare hoofband sou ek dit vir my ombind.

37Ek sou die getal van my treë aan Hom voorhou, soos aan 'n •leier sou ek dit aan Hom voorlê.

38As my grond teen my om hulp geroep het, die ploegvore saam getreur het,

39as ek die opbrengs daarvan geniet het sonder betaling, en as ek die bewerkers daarvan laat kreun het,

40laat daar dan in die plek van koring sydissels uitspruit, in die plek van gars, broodblom. ” Hier eindig die woorde van Job.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Job 31.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.