Bible

Transform

Your Worship Experience with Great Ease

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Job 30

:
Afrikaans - AFR20
1 Maar nou lag hulle my uit, hulle wat in lewensdae jonger is as ek, hulle wie se pa's ek te onwaardig geag het om hulle by die honde van my kleinvee toe te laat.
2 Boonop, wat sou die krag van hulle hande my baat, as hulle lewenskrag daarmee heen is?
3 Deur gebrek en honger weggeteer, is hulle mense wat die dor land, die wildernis en woesteny die vorige nag nog kaalgestroop het,
4 hulle wat die souterige blare van struike pluk; die wortels van witbesembosse is hulle brood.
5 Uit die gemeenskap is hulle verdryf, op hulle word geskree asof hulle diewe is.
6 In die walle van spruite moet hulle woon, in gate in die grond en rotse.
7 Tussen die struikgewas bulk hulle, onder brandnetels bondel hulle saam.
8 As dwase, ja, naamlose mense, word hulle uit die land verjaag.
9 En nou het ek hulle spotlied geword; ek het vir hulle 'n spreuk geword.
10 Hulle vind my afstootlik; hulle bly ver van my af, maar aarsel nie om my in my gesig te spoeg nie.
11 Omdat God my boogsnaar losgemaak en my verneder het, het hulle vrye teuels in my teenwoordigheid.
12 Aan my regterkant maak die jong gespuis gereed; hulle dwing my in 'n rigting, hulle vul hulle beleëringswalle teen my op.
13 Hulle breek my pad op, en trek voordeel uit my vernietiging; hulle sê, ‘Hy het nie 'n helper nie.’
14 Asof deur 'n breë bres kom hulle aan; onder 'n donderstorm kom hulle aangerol.
15 Verskrikkinge word op my losgelaat; asof deur 'n windvlaag word my waardigheid verdryf, soos 'n wolk gaan my redding verby.
16 Daarom stort my siel hom uit in my; dae van terneergedruktheid pak my beet.
17 Die nag grawe my gebeente uit my uit, my knaende pyne kom nie tot rus nie.
18 Met geweldige krag gryp Hy my bokleed; soos die opening in my kleed wurg Hy my.
19 Hy het my in die modder gegooi; ek het soos stof en as geword.
20 “Ek roep na U, maar U antwoord my nie; ek staan daar, en U kyk net na my.
21 U het wreed geword teenoor my; met u magtige hand behandel U my soos 'n vyand.
22 U tel my op die wind en laat my wegdryf; die stormwind waai my uitmekaar.
23 Ja, ek weet, na die dood laat U my omdraai, die ontmoetingsplek vir almal wat leef.
24 Mens lig tog nie 'n hand teen 'n puinhoop as hy in sy rampspoed om hulp roep nie?
25 Het ek nie gehuil oor dié wat moeilike tye beleef nie? Was my hart nie treurig oor behoeftiges nie?
26 Ja, op die goeie het ek gehoop, maar die slegte het gekom; op lig het ek gewag, maar donker het gekom.
27 My binneste is in beroering, dit kom nie tot rus nie; dae van terneergedruktheid sak op my toe.
28 Met 'n donker gelaat loop ek rond, maar nie as gevolg van hitte nie; ek staan in die byeenkoms op en roep aanhoudend om hulp.
29 'n Broer van jakkalse het ek geword, 'n vriend van steenuile.
30 My vel het swart geword en dop af, my gebeente gloei van koors.
31 My lier het 'n rouklag geword, my fluit die stem van huilendes.