1Job het toe verder gegaan met sy betoog en gesê:
2“As dit maar met my kon gaan soos in vroeër maande, soos in die dae toe God my bewaar het;
3toe Hy sy lamp bo my kop laat skyn het, toe ek by sy lig in die donker geloop het;
4soos toe ek my beste dae beleef het, toe God 'n beskutting bo my tent was;
5toe die Almagtige nog by my was, en my kinders rondom my;
6toe ek my voete in dikmelk kon afspoel, en klipperige grond strome olie vir my laat vloei het.
7Wanneer ek uitgegaan het na die poort, na die stad, en in die oop ruimte my sitplek reggeskuif het,
8het jong manne my gesien en opsy gestaan, het ou manne regop gekom en bly staan.
9•Hoë amptenare het hulle woorde teruggehou, hulle hande voor hulle monde geplaas;
10die stemme van •leiers het stil geraak, hulle tonge het aan hulle verhemeltes gekleef.
11Ja, elke oor wat kon hoor, het my gelukkig genoem, en elke oog wat kon sien, het instemmend vir my geknik.
12Want ek het magteloses wat om hulp geroep het, bevry, ook vaderlose kinders wat nie 'n helper het nie.
13Die seënspreuk van 'n sukkelaar het ek ontvang; die harte van weduwees het ek laat jubel.
14Ek het my met wat reg is, beklee, dit het my klere geword; my regverdige optrede was soos 'n mantel en 'n •tulband.
15Ek was oë vir blindes, en ek was voete vir lammes.
16Ek was 'n vader vir behoeftiges; die regsaak van mense wat ek nie geken het nie, het ek ondersoek,
17sodat ek die kake van 'n boosdoener kon breek, en prooi uit sy tande kon wegruk.
18“Ek het gedink, in my eie nes sal ek sterf, en my lewensdae sal soos sand vermeerder;
19my wortels sal strek tot by die water, en die dou sal oornag op my takke.
20Ek sal nuwe aansien bly geniet; my boog in my hand sal vernuwe word.
21“Na my het hulle vol verwagting geluister; hulle het stilgebly om my raad te hoor.
22En ná my uitspraak het hulle nie weer gepraat nie; my verduideliking was soos druppels water op hulle.
23Hulle het op my gewag soos op reën, hulle monde wyd oop vir die laatreëns.
24Ek het vir hulle geglimlag wanneer hulle dit skaars kon glo; my stralende gesig kon hulle nie stroef maak nie.
25Ek het namens hulle die pad gekies en as leier my plek ingeneem; ek was tuis onder hulle soos 'n koning by sy troepe, soos iemand wat treurendes vertroos.