Job 29
1 Job het toe verder gegaan met sy betoog en gesê:
2 “As dit maar met my kon gaan soos in vroeër maande, soos in die dae toe God my bewaar het;
3 toe Hy sy lamp bo my kop laat skyn het, toe ek by sy lig in die donker geloop het;
4 soos toe ek my beste dae beleef het, toe God 'n beskutting bo my tent was;
5 toe die Almagtige nog by my was, en my kinders rondom my;
6 toe ek my voete in dikmelk kon afspoel, en klipperige grond strome olie vir my laat vloei het.
7 Wanneer ek uitgegaan het na die poort, na die stad, en in die oop ruimte my sitplek reggeskuif het,
8 het jong manne my gesien en opsy gestaan, het ou manne regop gekom en bly staan.
9 •Hoë amptenare het hulle woorde teruggehou, hulle hande voor hulle monde geplaas;
10 die stemme van •leiers het stil geraak, hulle tonge het aan hulle verhemeltes gekleef.
11 Ja, elke oor wat kon hoor, het my gelukkig genoem, en elke oog wat kon sien, het instemmend vir my geknik.
12 Want ek het magteloses wat om hulp geroep het, bevry, ook vaderlose kinders wat nie 'n helper het nie.
13 Die seënspreuk van 'n sukkelaar het ek ontvang; die harte van weduwees het ek laat jubel.
14 Ek het my met wat reg is, beklee, dit het my klere geword; my regverdige optrede was soos 'n mantel en 'n •tulband.
15 Ek was oë vir blindes, en ek was voete vir lammes.
16 Ek was 'n vader vir behoeftiges; die regsaak van mense wat ek nie geken het nie, het ek ondersoek,
17 sodat ek die kake van 'n boosdoener kon breek, en prooi uit sy tande kon wegruk.
18 “Ek het gedink, in my eie nes sal ek sterf, en my lewensdae sal soos sand vermeerder;
19 my wortels sal strek tot by die water, en die dou sal oornag op my takke.
20 Ek sal nuwe aansien bly geniet; my boog in my hand sal vernuwe word.
21 “Na my het hulle vol verwagting geluister; hulle het stilgebly om my raad te hoor.
22 En ná my uitspraak het hulle nie weer gepraat nie; my verduideliking was soos druppels water op hulle.
23 Hulle het op my gewag soos op reën, hulle monde wyd oop vir die laatreëns.
24 Ek het vir hulle geglimlag wanneer hulle dit skaars kon glo; my stralende gesig kon hulle nie stroef maak nie.
25 Ek het namens hulle die pad gekies en as leier my plek ingeneem; ek was tuis onder hulle soos 'n koning by sy troepe, soos iemand wat treurendes vertroos.