1Daar is 'n plek waar silwer vandaan kom, 'n plek vir goud, waar dit uitgewas word.
2Yster word uit delfstof verkry, en erts word gesmelt tot koper.
3Die mens maak 'n einde aan die donker; tot die verste uithoeke bly hy soek na gesteentes in die donker, in stikdonkerte.
4Ver van waar iemand woon, sink hulle 'n skag. Vergete deur voetgangers hang hulle daar; weg van sterflinge swaai hulle heen en weer.
5Die aarde – daaruit kom kos voort; sy ondergrond word omvergewerp asof deur vuur.
6Sy gesteentes is 'n plek van •lasuursteen, en daar is goudstof in.
7Dit is 'n pad wat roofvoëls nie ken nie; die oog van valke bespeur dit nie.
8Trotse wilde diere betree dit nie; die maanhaar loop nie daarop nie.
9Die mens slaan sy hand selfs aan klipharde rots; hy keer berge van hulle wortels af om.
10In die rotse breek hy myngange oop, en sy oë sien al die kosbaarhede.
11Hy stop waterare toe; wat verborge is, bring hy na die lig.
12Maar wysheid – waar word dit gevind, en waar is die plek van insig?
13'n Sterflike mens ken nie die waarde daarvan nie, en in die land van die lewendes word dit nie gevind nie.
14Die diep waters sê: “In my is dit nie!” en die see sê: “Nie by my nie!”
15Suiwer goud kan nie daarvoor aangebied word nie, en silwer kan nie as koopprys daarvoor afgeweeg word nie.
16Met goud uit Ofir kan nie daarvoor betaal word nie, nie met kosbare •oniks of •lasuursteen nie.
17Goud en glas kan nie daarmee vergelyk word nie, en artikels uit fyngoud het nie ruilwaarde daarvoor nie.
18Pêrels en rotskristal word nie eers oorweeg nie; 'n sakkie wysheid is meer werd as korale.
19•Topaas uit Kus kan nie daarmee vergelyk word nie, met suiwer goud kan nie daarvoor betaal word nie.
20Maar wysheid – waar kom dit vandaan, en waar is die plek van insig?
21Dit is verborge vir die oë van alles wat leef, vir die voëls van die hemel is dit weggesteek.
22Die onderwêreld en die dood sê: “Net met ons ore het ons die gerug daarvan gehoor.”
23God het insig in die pad daarheen, Hy ken die plek daarvan.
24Want net Hy kyk tot by die eindes van die aarde; Hy sien alles onder die hemel,
25sodat Hy die gewig van die wind kan bepaal, en die hoeveelheid water kan vasstel.
26Toe Hy vir die reën vaste reëls neergelê het, 'n pad vir die harde donderslae,
27toe het Hy ook die wysheid gesien, en daarvan vertel; Hy het daaraan 'n vaste plek gegee, en dit ook deurgrond.
28Maar vir die mens het Hy gesê: “Kyk, ontsag vir die Heer, dit is wysheid, en om van kwaad weg te bly, is insig.”