Job 32AFR20

1Die drie manne het toe opgehou om op Job te reageer, want in sy eie oë was hy regverdig.

2Maar Elihu, seun van Barakel, uit Bus, uit die grootfamilie van Ram, het kwaad geword. Hy was kwaad vir Job omdat hy homself verontskuldig het teenoor God.

3Elihu was kwaad vir sy drie vriende omdat hulle nie antwoorde kon vind nie, maar Job tog skuldig verklaar het.

4Elihu het sy woorde teen Job teruggehou, omdat hulle ouer as hy was.

5Toe Elihu egter sien dat daar geen antwoord kom uit die mond van die drie manne nie, het hy kwaad geword.

6Elihu, seun van Barakel, uit Bus, het toe gereageer en gesê: “Ek is jonk, en julle is oud; daarom was ek beskroomd en bang om my kennis met julle te deel.

7Ek het gedink, die jare moet praat, die baie lewensjare moet wysheid openbaar.

8Maar dit is die gees in sterflinge en die asem van die Almagtige wat aan hulle insig gee.

9Dit is nie noodwendig dié wat ryp in jare is wat wys is, en oumense wat insig het in wat reg is nie.

10Daarom sê ek, ‘Luister na my! Ook ek wil my kennis deel.’

11“Kyk, ek het op julle woorde gewag; ek het geluister na julle insig, terwyl julle na woorde soek.

12My aandag was net by julle. Maar kyk, niemand kon Job teregwys nie, niemand onder julle kon op sy woorde antwoord nie.

13Julle moet nou net nie sê, ‘Ons het wysheid teëgekom. Net God kan van hom ontslae raak, nie 'n mens nie.’

14Hy het nie argumente teen my aangevoer nie; met julle woorde sal ek hom nie antwoord nie.

15“Hulle is skoon verskrik, hulle antwoord nie meer nie; woorde ontwyk hulle.

16Sou ek dan wag as hulle nie praat nie, as hulle maar net daar staan, nie meer antwoord nie?

17Ook ek sal op my beurt 'n antwoord gee, ook ek sal my kennis deel.

18Want ek is vol woorde, die gees in my binneste dwing my.

19Kyk, my binneste is soos wanneer wyn nie oopgemaak word nie; soos nuwe leersakke wil dit oopbars.

20Ek moet praat en verligting kry, my mond oopmaak en reageer.

21Ek mag vir niemand partydig wees nie, en ek sal mense nie vlei nie,

22want ek weet nie hoe om te vlei nie; my Maker sou my gou verwyder.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Job 32.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.