Job 24
1 “Waarom word vaste tye nie opsy gesit deur die Almagtige nie, en waarom sien dié wat Hom ken, nooit sy dae nie?
2 Mense verskuif grense, hulle buit troppe vee en laat dit wei.
3 Hulle jaag die donkie van vaderlose kinders weg, en neem die bees van 'n weduwee as pand.
4 Hulle druk behoeftiges van die pad af; saam skuil magteloses van die land.
5 Kyk, soos wildedonkies in die woestyn trek hulle uit vir hulle daaglikse werk – op soek na iets te ete. Die Araba voorsien kos vir hulle en hulle kinders.
6 In die veld maak hulle voer bymekaar; in die wingerde van goddeloses maak hulle die naoes bymekaar.
7 Halfkaal bring hulle die nag deur, sonder 'n bokleed, met geen bedekking teen die koue nie.
8 Hulle is deurnat van die reën in die berge, en staan styf teen 'n rots aangedruk, sonder skuilplek.
9 'n Vaderlose kind word van die bors weggeskeur; wat aan die magtelose is, word as pand geneem.
10 Halfkaal loop hulle rond, sonder bokleed; honger, dra hulle gerwe.
11 Tussen goddeloses se terrasmure pars hulle olywe; hulle trap parskuipe, terwyl hulle dors ly.
12 In die stad kreun sterwendes, die kele van gewondes roep om hulp; maar God slaan nie ag op die ongerymdheid nie.
13 “ Daar is dié wat in opstand is teen die Lig; hulle erken nie sy weë nie, hulle is nie tuis op sy paaie nie.
14 Teen ligdag staan die moordenaar op; hy maak magteloses en behoeftiges dood, en snags is hy soos 'n dief.
15 Die egbreker hou die skemer in die oog en sê, ‘Geen oog sal my sien nie’; en dan plaas hy 'n bedekking oor sy gesig.
16 Hulle breek in die donker by huise in. Bedags sluit hulle hulleself toe, hulle ken die lig nie.
17 Ja, vir hulle almal saam is stikdonkerte soos die môrelig; hulle is immers vertroud met die verskrikkinge van 'n stikdonker nag.
18 “ Mag hulle vinnig wegdryf op die water! Mag hulle erfdeel in die land in 'n vervloeking gebruik word; mag hulle nie in die rigting van die wingerde gaan nie.
19 Droë grond en hitte raap sneeuwater weg, net soos die •doderyk hulle wat gesondig het.
20 Mag die moederskoot hulle vergeet; mag die maaiers hulle soet vind; mag hulle nie meer onthou word nie. Mag die onreg soos 'n stuk hout gebreek word –
21 hulle wat 'n onvrugbare sonder kinders kaal stroop, aan 'n weduwee niks goeds doen nie.
22 God sal die magtiges wegsleep deur sy krag. Al staan hulle op, is hulle lewens nie seker nie.
23 Hy gee aan hulle veiligheid, en daarop steun hulle; maar sy oë hou hulle paaie dop.
24 Vir 'n kort rukkie verhef hulle hulleself, maar dan is hulle nie meer daar nie. Hulle sink neer soos alle dinge, en word bymekaargemaak; soos die hoogste koringaar word hulle afgesny.
25 As dit nie so is nie, wie sal my tot leuenaar maak, en my woorde as niksseggend afmaak?”