Job 22
1 Elifas uit Teman het hierop gereageer en gesê:
2 “ Kan 'n man vir God van waarde wees? Ja, kan selfs iemand met insig vir Hom van waarde wees?
3 Vind die Almagtige vreugde daarin wanneer jy regverdig optree, of hou dit vir Hom voordeel in wanneer jy onberispelik optree?
4 Is dit oor jou ontsag vir Hom dat Hy jou teregwys, met jou in 'n regstryd betrokke raak?
5 Is jou boosheid nie groot nie? Daar is geen einde aan jou sondeskuld nie!
6 Ja, jy het sonder rede 'n pand geneem van jou volksgenote, die klere van halfnaaktes afgestroop.
7 Jy het geen water te drinke gegee aan wie uitgeput was nie, van wie honger was, het jy brood weerhou.
8 Mense met mag, vir hulle was grond beskikbaar, dié met aansien, hulle kon daarop woon.
9 Weduwees het jy met leë hande weggestuur, die hande van vaderlose kinders is afgekap.
10 Daarom is daar valstrikke rondom jou, en oorweldig vrees jou onverwags.
11 Of sien jy nie die duisternis, die watervloed wat jou bedek nie?
12 “ Is God nie in die hoë hemel nie? Kyk maar net na die hoogste sterre, ja, kyk hoe hoog is hulle!
13 Maar jy sê, ‘Wat weet God? Kan Hy deur diepe duisternis 'n oordeel vel?
14 Wolke omhul Hom; Hy sien nie terwyl Hy bo die hemelkoepel rondwandel nie.’
15 Wil jy by die oeroue pad hou wat bose mense oopgetrap het,
16 hulle wat voor hulle tyd weggeruk word, hulle wie se fondament deur 'n rivier weggevoer word,
17 hulle wat vir God gesê het, ‘Bly van ons af weg!’ en, ‘Wat kan die Almagtige aan ons doen?’
18 en dit terwyl Hy die Een is wat hulle huise gevul het met die goeie? Maar die planne van goddeloses is ver van my.
19 Regverdiges sien dit en is bly. Onskuldiges dryf die spot met hulle,
20 ‘Voorwaar, ons teenstanders is uitgewis, en wat van hulle oor was, is deur vuur verteer.’
21 “As jy jou maar met Hom versoen, sal jy daardeur vrede hê; dan sal die goeie weer na jou toe kom.
22 Aanvaar tog die onderrig uit sy mond, en hou sy woorde in jou hart.
23 As jy terugkeer na die Almagtige, sal jy herbou word – as jy onreg uit jou tent verwyder.
24 Gooi gouderts in die stof, goud van Ofir tussen die rotse van die spruite.
25 Dan sal die Almagtige jou gouderts en uitgesoekte silwer vir jou wees.
26 Ja, dan sal jy jou vreugde vind by die Almagtige, en jou gesig na God ophef.
27 Jy sal by Hom pleit en Hy sal jou verhoor; jou beloftes sal jy betaal.
28 Jy sal oor 'n saak besluit, en dit sal vir jou vervul word; oor jou paaie sal 'n lig skyn.
29 Wanneer mense iemand verneder, sal jy sê, ‘Dit is hoogmoed!’ Wie neergeslane oë het, verlos Hy.
30 Hy bevry selfs iemand wat nie onskuldig is nie, iemand wat sal ontkom omdat jou hande skoon is.”