Job 22AFR20

1Elifas uit Teman het hierop gereageer en gesê:

2“ Kan 'n man vir God van waarde wees? Ja, kan selfs iemand met insig vir Hom van waarde wees?

3Vind die Almagtige vreugde daarin wanneer jy regverdig optree, of hou dit vir Hom voordeel in wanneer jy onberispelik optree?

4Is dit oor jou ontsag vir Hom dat Hy jou teregwys, met jou in 'n regstryd betrokke raak?

5Is jou boosheid nie groot nie? Daar is geen einde aan jou sondeskuld nie!

6Ja, jy het sonder rede 'n pand geneem van jou volksgenote, die klere van halfnaaktes afgestroop.

7Jy het geen water te drinke gegee aan wie uitgeput was nie, van wie honger was, het jy brood weerhou.

8Mense met mag, vir hulle was grond beskikbaar, dié met aansien, hulle kon daarop woon.

9Weduwees het jy met leë hande weggestuur, die hande van vaderlose kinders is afgekap.

10Daarom is daar valstrikke rondom jou, en oorweldig vrees jou onverwags.

11Of sien jy nie die duisternis, die watervloed wat jou bedek nie?

12“ Is God nie in die hoë hemel nie? Kyk maar net na die hoogste sterre, ja, kyk hoe hoog is hulle!

13Maar jy sê, ‘Wat weet God? Kan Hy deur diepe duisternis 'n oordeel vel?

14Wolke omhul Hom; Hy sien nie terwyl Hy bo die hemelkoepel rondwandel nie.’

15Wil jy by die oeroue pad hou wat bose mense oopgetrap het,

16hulle wat voor hulle tyd weggeruk word, hulle wie se fondament deur 'n rivier weggevoer word,

17hulle wat vir God gesê het, ‘Bly van ons af weg!’ en, ‘Wat kan die Almagtige aan ons doen?’

18en dit terwyl Hy die Een is wat hulle huise gevul het met die goeie? Maar die planne van goddeloses is ver van my.

19Regverdiges sien dit en is bly. Onskuldiges dryf die spot met hulle,

20‘Voorwaar, ons teenstanders is uitgewis, en wat van hulle oor was, is deur vuur verteer.’

21“As jy jou maar met Hom versoen, sal jy daardeur vrede hê; dan sal die goeie weer na jou toe kom.

22Aanvaar tog die onderrig uit sy mond, en hou sy woorde in jou hart.

23As jy terugkeer na die Almagtige, sal jy herbou word – as jy onreg uit jou tent verwyder.

24Gooi gouderts in die stof, goud van Ofir tussen die rotse van die spruite.

25Dan sal die Almagtige jou gouderts en uitgesoekte silwer vir jou wees.

26Ja, dan sal jy jou vreugde vind by die Almagtige, en jou gesig na God ophef.

27Jy sal by Hom pleit en Hy sal jou verhoor; jou beloftes sal jy betaal.

28Jy sal oor 'n saak besluit, en dit sal vir jou vervul word; oor jou paaie sal 'n lig skyn.

29Wanneer mense iemand verneder, sal jy sê, ‘Dit is hoogmoed!’ Wie neergeslane oë het, verlos Hy.

30Hy bevry selfs iemand wat nie onskuldig is nie, iemand wat sal ontkom omdat jou hande skoon is.”

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Job 22.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.