1Job het hierop gereageer en gesê:
2“Luister goed na my woorde – dit sal julle vertroosting aan my wees.
3Verdra my nou, ek sal praat; as ek klaar gepraat het, kan jy verder spot.
4“Is ek die een wat my klagte teen 'n mens rig? En waarom mag ek dan nie ongeduldig wees nie?
5As julle aan my aandag skenk, sal julle verbyster wees, en julle hande voor julle monde hou.
6As ek daaraan dink, is ek ontsteld en trek 'n siddering deur my lyf.
7Waarom bly goddeloses aan die lewe? Waarom word hulle oud, groei hulle mag selfs?
8Hulle nageslag is bestendig in hulle teenwoordigheid, by hulle; hulle nakomelinge is daar voor hulle oë.
9Hulle huise is veilig, sonder verskrikking; en die roede van God is nie op hulle nie.
10Hulle bulle dek die koeie sonder om te faal, hulle koeie kalf en het nie misgeboortes nie.
11Hulle laat hulle seuntjies toe om rond te loop soos kleinvee; hulle kinders huppel rond.
12Begelei deur tamboeryne en liere sing hulle; hulle is vrolik as hulle die klank van fluite hoor.
13Hulle eindig hulle lewensjare in voorspoed, en gaan rustig af na die •doderyk.
14Hulle sê vir God, ‘Bly weg van ons af! Om u paaie te ken, pas ons nie.
15Wie is die Almagtige nou eintlik dat ons Hom moet dien? En wat baat dit ons as ons biddend by Hom pleit?’
16Kyk, hulle voorspoed is nie in hulle eie hande nie; die planne van goddeloses is ver van my.
17Hoe dikwels word die lamp van goddeloses uitgedoof en oorval teenspoed hulle, die verwoesting wat Hy in sy toorn uitdeel?
18Word hulle soos strooihalms voor die wind, soos kaf wat deur 'n stormwind weggedra word?
19Julle sê, ‘God spaar sy onheil vir iemand se kinders.’ Hy moet dit liewer aan die persoon self vergeld, sodat hy dit beleef.
20Sy oë moet sy ondergang sien, van die Almagtige se woede moet hy drink.
21Wat gee hy immers om vir sy huisgesin ná hom wanneer die getal van sy maande tot 'n einde gekom het?
22Sal hy dan aan God kennis kan meedeel, terwyl God selfs hulle wat verhewe is, oordeel?
23Een persoon sterf terwyl hy oor al sy kragte beskik – heeltemal onverstoord en sorgeloos,
24met sy emmers vol melk, en sy beenmurg vogtig.
25'n Ander persoon sterf met 'n verbitterde siel, sonder dat hy voorspoed gesmaak het.
26Saam lê hulle in die stof, en die maaiers bedek hulle albei.
27“Kyk, ek ken julle gedagtes, die versinsels waarmee julle my geweld aandoen.
28As julle sê, ‘Waar is die huis van vooraanstaandes? Waar is die tentwonings van goddeloses? ’
29het julle nie by reisigers navraag gedoen en op hulle tekens ag geslaan nie?
30Ja, op die dag van teenspoed word 'n bose mens gespaar; op die dag van woedebuie word hy veilig gelei.
31Wie sal hom sy optrede openlik verwyt? En wat hy aangevang het – wie gaan hom daarvoor vergeld?
32Hy egter, word na die graf geneem; en oor sy graf hou iemand wag.
33Die kluite van die skag is vir hom soet. Alle mense sal hom volg, en dié wat hom voorafgegaan het, is ontelbaar.
34Hoe kan julle my troos met nietigheid? Julle antwoorde kom uiteindelik neer op ontrou!”