Bible

Say Goodbye

To Clunky Software & Sunday Tech Stress!

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Job 20

:
Afrikaans - AFR20
1 Sofar uit Naäma het hierop gereageer en gesê:
2 “My verontrustende gedagtes laat my dan nou antwoord, op grond van die ongeduld in my:
3 'n Teregwysing wat my verneder, moes ek aanhoor; hy antwoord my met 'n gesindheid buite my begrip.
4 Dit weet jy tog: Van die vroegste tye af, vandat God die mens op aarde geplaas het,
5 is die gejuig van goddeloses van korte duur, en die vreugde van 'n godlose net vir 'n oomblik.
6 Al styg sy selfverheffing ten hemele, en raak sy kop aan die wolke,
7 soos sy eie ontlasting gaan hy vir altyd tot niet; dié wat hom gesien het, sal vra, ‘Waar is hy?’
8 Soos 'n droom vlieg hy weg, sonder om weer gevind te word; hy word verdryf soos 'n naggesig.
9 Die oog wat hom raakgesien het, sien hom nie meer nie, en sy plek merk hom nie meer op nie.
10 Sy kinders moet die armes vergoed; sy eie hande gee sy rykdom terug.
11 Sy liggaam was vol van sy jeugdige krag, maar saam met hom dit in die stof.
12 Al smaak die kwaad soet in sy mond, al steek hy dit onder sy tong weg,
13 al gaar hy dit op en gee dit nie prys nie; al hou hy dit terug in sy mond,
14 word sy kos in sy ingewande verander; dit is die gif van kobras in sy binneste.
15 Die rykdom wat hy ingesluk het, sal hy opgooi; God sal dit uit sy maag dryf.
16 Die gif van kobras suig hy op, die tong van 'n adder maak hom dood.
17 Laat hy nie met vreugde kyk na die spruite, na die riviere, die strome heuning en dikmelk nie.
18 Wat moeisaam verwerf is, gee hy telkens terug; hy sluk dit nie in nie. Sy handelswins sal hy nie geniet nie,
19 omdat hy armes mishandel het, hulle in die steek gelaat het; op huise wat hy nie gebou het nie, het hy beslag gelê.
20 Omdat sy maag nie tevredenheid ken nie, sal hy nie met sy kosbaarhede wegkom nie.
21 Niks ontkom aan sy vraatsug nie; daarom sal sy voorspoed nie duur nie.
22 Ten spyte van al sy oorvloed raak hy in die noute; die volle krag van teenspoed kom op hom af.
23 Om sy maag vol te maak, stuur God sy brandende toorn teen hom, Hy laat dit op hom neerreën, op sy liggaam.
24 Vlug hy weg van ysterwapens, deurboor 'n bronspyl hom.
25 Hy trek dit uit; en kom dit uit sy rug uit, blink dit van sy gal. Skrikbeelde oorval hom dan.
26 Volledige duisternis gereed vir wat hy weggesit het; 'n vuur wat nie aangeblaas is nie, sal dit verteer. Oorlewendes in sy tent kom sleg daarvan af.
27 Die hemel ontbloot sy sondeskuld, en die aarde kom teen hom in opstand.
28 Vloedwaters sal sy huis wegvoer, waterstrome op die dag van God se toorn.
29 Van God se kant af is dít die erfdeel van 'n goddelose mens, die erfenis deur God aan hom toegesê.”