1Sofar uit Naäma het hierop gereageer en gesê:
2“My verontrustende gedagtes laat my dan nou antwoord, op grond van die ongeduld in my:
3'n Teregwysing wat my verneder, moes ek aanhoor; hy antwoord my met 'n gesindheid buite my begrip.
4Dit weet jy tog: Van die vroegste tye af, vandat God die mens op aarde geplaas het,
5is die gejuig van goddeloses van korte duur, en die vreugde van 'n godlose net vir 'n oomblik.
6Al styg sy selfverheffing ten hemele, en raak sy kop aan die wolke,
7soos sy eie ontlasting gaan hy vir altyd tot niet; dié wat hom gesien het, sal vra, ‘Waar is hy?’
8Soos 'n droom vlieg hy weg, sonder om weer gevind te word; hy word verdryf soos 'n naggesig.
9Die oog wat hom raakgesien het, sien hom nie meer nie, en sy plek merk hom nie meer op nie.
10Sy kinders moet die armes vergoed; sy eie hande gee sy rykdom terug.
11Sy liggaam was vol van sy jeugdige krag, maar saam met hom lê dit in die stof.
12“ Al smaak die kwaad soet in sy mond, al steek hy dit onder sy tong weg,
13al gaar hy dit op en gee dit nie prys nie; al hou hy dit terug in sy mond,
14word sy kos in sy ingewande verander; dit is die gif van kobras in sy binneste.
15Die rykdom wat hy ingesluk het, sal hy opgooi; God sal dit uit sy maag dryf.
16Die gif van kobras suig hy op, die tong van 'n adder maak hom dood.
17Laat hy nie met vreugde kyk na die spruite, na die riviere, die strome heuning en dikmelk nie.
18Wat moeisaam verwerf is, gee hy telkens terug; hy sluk dit nie in nie. Sy handelswins sal hy nie geniet nie,
19omdat hy armes mishandel het, hulle in die steek gelaat het; op huise wat hy nie gebou het nie, het hy beslag gelê.
20Omdat sy maag nie tevredenheid ken nie, sal hy nie met sy kosbaarhede wegkom nie.
21Niks ontkom aan sy vraatsug nie; daarom sal sy voorspoed nie duur nie.
22Ten spyte van al sy oorvloed raak hy in die noute; die volle krag van teenspoed kom op hom af.
23Om sy maag vol te maak, stuur God sy brandende toorn teen hom, Hy laat dit op hom neerreën, op sy liggaam.
24Vlug hy weg van ysterwapens, deurboor 'n bronspyl hom.
25Hy trek dit uit; en kom dit uit sy rug uit, blink dit van sy gal. Skrikbeelde oorval hom dan.
26Volledige duisternis lê gereed vir wat hy weggesit het; 'n vuur wat nie aangeblaas is nie, sal dit verteer. Oorlewendes in sy tent kom sleg daarvan af.
27Die hemel ontbloot sy sondeskuld, en die aarde kom teen hom in opstand.
28Vloedwaters sal sy huis wegvoer, waterstrome op die dag van God se toorn.
29Van God se kant af is dít die erfdeel van 'n goddelose mens, die erfenis deur God aan hom toegesê.”