1“My gees is neerslagtig, my dae is uitgedoof; die graf wag op my.
2Bespotting is beslis my lot; op hulle teenkanting bly my oog rus.
3Hou asseblief my pand by U. Wie anders sal vir my as borg optree?
4U het immers hulle harte van insig weerhou; daarom sal U hulle nie na die hoogte neem nie.
5Wie vriende aankla vir eie voordeel – sy kinders se oë sal dof raak.
6“ God het van my 'n spreekwoord onder mense gemaak; soos spoeg in die gesig het ek geword.
7My oë is dof van leed; al my ledemate is maar net soos 'n skaduwee.
8Opregtes staan verslae hieroor; 'n onskuldige raak ontsteld oor 'n godlose.
9'n Regverdige hou op sy pad, en wie rein hande het, vermeerder sy krag.
10Maar julle kan almal maar aanhou terugkom. Ek sal niemand onder julle vind wat wys is nie.
11“ My dae is verby, my planne is daarmee heen, ja, die begeertes van my hart.
12Van die nag maak hulle dag: ‘Die lig is naby, juis omdat dit donker is.’
13As ek my hoop op iets moet vestig: Die •doderyk is my tuiste, in die donker het ek my bed oopgerol;
14vir die grafkuil het ek geskreeu, ‘Jy is my pa!’ vir die wurms, ‘My ma!’ en ‘My suster!’
15Waar is my hoop dan? Ja, my hoop – wie sien dit nog?
16Sal dit saam met my afgaan na die doderyk? Sal ons saam wegsink in die stof?”