1Job het hierop gereageer en gesê:
2“Ek het al baie sulke woorde gehoor! Almal van julle is treurige troosters!
3Is dit nou die einde van jou woorde van wind? Of wat dryf jou dat jy bly antwoord?
4Ook ek sou soos julle kon praat as julle in my plek was. Ek sou woorde aanmekaar kon ryg teen julle, my kop oor julle meewarig skud.
5Ek sou julle met die woorde van my mond kon versterk; die meegevoel van my lippe sou verligting bring.
6As ek praat, bedaar my pyn nie. En as ek ophou – sou dit my dan verlaat?
7“Maar nou – God het my uitgeput. U het almal in my omgewing met vrees vervul.
8U het my vasgegryp – dit dien as getuienis; die leuen oor my staan teen my op, dit getuig openlik teen my.
9Sy toorn het my verskeur, my as 'n vyand behandel. Teen my het Hy op sy tande gekners; my teenstander het my met sy oë deurpriem.
10Hulle het hulle monde wyd teen my oopgesper, my beledigend op die wange geslaan; hulle span teen my saam.
11God lewer my oor aan misdadigers, in die hande van goddeloses werp Hy my.
12Ek was sorgeloos, maar Hy het my rondgeruk, my aan die nek gegryp en aan stukke gebreek. Hy het my as 'n teiken vir Hom opgestel;
13sy pyle vlieg rondom my, sonder genade deurboor Hy my niere, Hy stort my gal op die grond uit.
14Hy slaan bres ná bres in my; soos 'n held storm Hy op my af.
15“'n Roukleed het ek bo-oor my naakte vel vasgewerk, ek het my krag in die stof laat sink.
16My gesig is rooi van die gehuil; en daar is donker skaduwees om my oë –
17al kleef daar geen geweld aan my handpalms nie, en al is my gebed suiwer.
18Grond, moenie my bloed bedek nie, laat daar geen rusplek vir my hulpgeroep wees nie.
19Maar nou, kyk, my getuie is in die hemel, my pleitbesorger is in die hoogte;
20die een wat vir my voorspraak maak, is my vriend. By God stort my oog trane;
21maar die voorspraak sal vir 'n man by God pleit soos 'n mens vir sy vriend pleit.
22Want min jare sal verloop voordat ek op 'n pad gaan waarmee ek nie sal terugkeer nie.