Job 15AFR20

1Elifas uit Teman het hierop gereageer en gesê:

2“Sal 'n wyse antwoord met sinlose kennis, en sy binneste met die oostewind vul?

3Kan hy sy saak verdedig met 'n argument wat nie sin maak nie, met woorde waarmee hy niks uitrig nie?

4Jy is boonop die een wat ontsag vir God ondermyn; jy skat oorpeinsing voor God gering.

5Ja, jou sondeskuld vuur jou mond aan; jy kies die taal van geslepenes.

6Jou eie mond verklaar jou skuldig – nie ek nie; jou lippe getuig teen jou.

7“Is jy die eerste mens wat gebore is? Is jy voor die heuwels voortgebring?

8Luister jy na die vertroulike beraadslaging van God, en beperk jy wysheid net tot jouself?

9Wat weet jy wat ons nie weet nie? Watter insig het jy waarin ons nie deel nie?

10Daar is sowel gryskoppe as ou manne onder ons, ryper in jare as jou vader.

11“Is dit te gering vir jou – God se vertroostinge, 'n sagte woord aan jou?

12Waarom voer jou hart jou mee, waarom laat jou oë jou in die steek,

13dat jy jou gegriefdheid teen God rig, dat daar woorde uit jou mond kom?

14Wat is 'n sterfling, dat hy volkome reg sou wees, dat hy gelyk sou hê – iemand gebore uit 'n vrou?

15Kyk, God stel selfs in sy heiliges nie vertroue nie – ook die hemel is nie rein in sy oë nie –

16hoeveel minder 'n mens wat afstootlik en ontaard is, wat ongeregtigheid soos water drink!

17“Ek sal jou onderrig, luister na my! Dit is wat ek gesien het, en ek wil vertel

18wat die wyses bekend gemaak en nie weggesteek het nie, op gesag van hulle voorvaders,

19hulle, die enigstes aan wie die land gegee is, toe geen buitestanders nog tussen hulle deurgetrek het nie:

20Al die dae van sy lewe krimp 'n goddelose ineen van angs, ja, tydens die volle getal jare wat weggesit is vir 'n geweldenaar.

21Die geluid van verskrikkinge is in sy ore; in 'n tyd van voorspoed oorval 'n verwoester hom.

22Hy glo nie dat hy uit die donker sal terugkeer nie; hy word voortdurend dopgehou, met die oog op teregstelling.

23Hy dwaal rond as kos vir die aasvoëls; hy weet dat deur sy eie toedoen die dag van duisternis gereed is.

24Benoudheid en neerslagtigheid verskrik hom – dit oorweldig hom soos wanneer 'n koning gereedmaak vir die aanslag;

25omdat hy sy hand teen God uitgesteek het, hom teenoor die Almagtige magtig gehou het,

26hardnekkig op Hom afgestorm het met sy dik, knobbelrige skild.

27Al blink sy gesig van die vet en het hy 'n vetrol om sy middel,

28en al het hy verwoeste stede bewoon – huise wat onbewoonbaar moes bly, wat bestem was om kliphope te wees –

29hy sal nie ryk bly nie, sy welvaart sal nie standhou nie; sy besittings sal nie deur die land uitbrei nie.

30Hy sal die donker nie ontwyk nie. 'n Vlam sal sy loot laat verskrompel, sodat hy verdwyn deur die asem van God se mond.

31Hy moet nie op nietigheid vertrou nie – hy word mislei; want nietigheid sal hy as ruilware kry.

32Voor sy tyd word dit vervul; sy takke sal nie vol blare wees nie.

33Hy skud sy groen druiwe soos 'n wingerdstok af, en gooi sy bloeisels soos 'n olyfboom af.

34Ja, die bende godloses is onvrugbaar, en vuur verteer die tente wat deur omkopery verkry is.

35Hulle is swanger van teenspoed, en gee geboorte aan onreg, hulle skoot berei bedrog voor.”

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Job 15.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.