Job 15
1 Elifas uit Teman het hierop gereageer en gesê:
2 “Sal 'n wyse antwoord met sinlose kennis, en sy binneste met die oostewind vul?
3 Kan hy sy saak verdedig met 'n argument wat nie sin maak nie, met woorde waarmee hy niks uitrig nie?
4 Jy is boonop die een wat ontsag vir God ondermyn; jy skat oorpeinsing voor God gering.
5 Ja, jou sondeskuld vuur jou mond aan; jy kies die taal van geslepenes.
6 Jou eie mond verklaar jou skuldig – nie ek nie; jou lippe getuig teen jou.
7 “Is jy die eerste mens wat gebore is? Is jy voor die heuwels voortgebring?
8 Luister jy na die vertroulike beraadslaging van God, en beperk jy wysheid net tot jouself?
9 Wat weet jy wat ons nie weet nie? Watter insig het jy waarin ons nie deel nie?
10 Daar is sowel gryskoppe as ou manne onder ons, ryper in jare as jou vader.
11 “Is dit te gering vir jou – God se vertroostinge, 'n sagte woord aan jou?
12 Waarom voer jou hart jou mee, waarom laat jou oë jou in die steek,
13 dat jy jou gegriefdheid teen God rig, dat daar woorde uit jou mond kom?
14 Wat is 'n sterfling, dat hy volkome reg sou wees, dat hy gelyk sou hê – iemand gebore uit 'n vrou?
15 Kyk, God stel selfs in sy heiliges nie vertroue nie – ook die hemel is nie rein in sy oë nie –
16 hoeveel minder 'n mens wat afstootlik en ontaard is, wat ongeregtigheid soos water drink!
17 “Ek sal jou onderrig, luister na my! Dit is wat ek gesien het, en ek wil vertel
18 wat die wyses bekend gemaak en nie weggesteek het nie, op gesag van hulle voorvaders,
19 hulle, die enigstes aan wie die land gegee is, toe geen buitestanders nog tussen hulle deurgetrek het nie:
20 Al die dae van sy lewe krimp 'n goddelose ineen van angs, ja, tydens die volle getal jare wat weggesit is vir 'n geweldenaar.
21 Die geluid van verskrikkinge is in sy ore; in 'n tyd van voorspoed oorval 'n verwoester hom.
22 Hy glo nie dat hy uit die donker sal terugkeer nie; hy word voortdurend dopgehou, met die oog op teregstelling.
23 Hy dwaal rond as kos vir die aasvoëls; hy weet dat deur sy eie toedoen die dag van duisternis gereed is.
24 Benoudheid en neerslagtigheid verskrik hom – dit oorweldig hom soos wanneer 'n koning gereedmaak vir die aanslag;
25 omdat hy sy hand teen God uitgesteek het, hom teenoor die Almagtige magtig gehou het,
26 hardnekkig op Hom afgestorm het met sy dik, knobbelrige skild.
27 Al blink sy gesig van die vet en het hy 'n vetrol om sy middel,
28 en al het hy verwoeste stede bewoon – huise wat onbewoonbaar moes bly, wat bestem was om kliphope te wees –
29 hy sal nie ryk bly nie, sy welvaart sal nie standhou nie; sy besittings sal nie deur die land uitbrei nie.
30 Hy sal die donker nie ontwyk nie. 'n Vlam sal sy loot laat verskrompel, sodat hy verdwyn deur die asem van God se mond.
31 Hy moet nie op nietigheid vertrou nie – hy word mislei; want nietigheid sal hy as ruilware kry.
32 Voor sy tyd word dit vervul; sy takke sal nie vol blare wees nie.
33 Hy skud sy groen druiwe soos 'n wingerdstok af, en gooi sy bloeisels soos 'n olyfboom af.
34 Ja, die bende godloses is onvrugbaar, en vuur verteer die tente wat deur omkopery verkry is.
35 Hulle is swanger van teenspoed, en gee geboorte aan onreg, hulle skoot berei bedrog voor.”