Job 14AFR20

1“ 'n Mens, gebore uit 'n vrou, se lewensdae is van korte duur en vol onrus.

2Soos 'n blom kom hy op en verwelk; soos 'n skaduwee verdwyn hy en hou nie stand nie.

3Ja, op so een hou U u oë gerig, hom betrek U in 'n regsaak met U.

4Wie kan iets reins uit iets onreins laat voortkom? Niemand nie!

5As sy lewensdae dan vasgestel is, die getal van sy maande by U vasstaan; as U sy grens bepaal het wat hy nie kan oorskry nie,

6kyk dan weg van hom af, sodat hy kan ophou werk, totdat hy soos 'n dagloner tevrede is met sy dag.

7Ja, vir 'n boom is daar hoop: As hy afgekap word, loop hy weer uit, sy jong lote hou nie op uitspruit nie.

8Al word sy wortel oud in die grond, en al gaan sy stomp dood in die grond,

9van die reuk van water spruit hy uit, maak hy lote soos 'n jong plant.

10Maar 'n man sterf en is magteloos; 'n mens kom om – en waar is hy dan?

11Water verdwyn uit 'n see, en 'n rivier droog op en lê uitgedor;

12so gaan lê 'n mens en staan nie weer op nie. Tot die hemel nie meer daar is nie, word hulle nie wakker nie, word hulle nie wakker gemaak uit hulle slaap nie.

13“As U my maar in die •doderyk wou wegsteek, my verberg totdat u toorn bedaar het, 'n vasgestelde tyd vir my bepaal, en my dan onthou!

14As 'n man sterf, sal hy weer leef? Al die dae van my dwangarbeid sou ek wag tot die einde van my skof.

15U sou roep en ek, ek sou U antwoord; na u handewerk sou U verlang.

16Alhoewel U nou my treë tel, sou U nie my sonde dophou nie.

17Verseël in 'n sak sou my oortreding wees; U sou my sondeskuld toepleister.

18“Maar 'n berg stort ineen en verkrummel, 'n rots verskuif uit sy plek;

19water verweer selfs klippe, stortreën spoel die stof van die grond weg – net so laat U 'n sterfling se hoop tot niet gaan.

20U oorweldig hom vir altyd, en hy gaan heen; U verander sy gelaat en stuur hom weg.

21Sy seuns word vereer, maar hy weet dit nie; hulle word verkleineer, maar hy merk dit nie op nie.

22Sy liggaam ervaar egter pyn, en hy treur net oor homself.”

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Job 14.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.