Bible

Focus

On Your Ministry and Not Your Media

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Job 14

:
Afrikaans - AFR20
1 'n Mens, gebore uit 'n vrou, se lewensdae is van korte duur en vol onrus.
2 Soos 'n blom kom hy op en verwelk; soos 'n skaduwee verdwyn hy en hou nie stand nie.
3 Ja, op so een hou U u gerig, hom betrek U in 'n regsaak met U.
4 Wie kan iets reins uit iets onreins laat voortkom? Niemand nie!
5 As sy lewensdae dan vasgestel is, die getal van sy maande by U vasstaan; as U sy grens bepaal het wat hy nie kan oorskry nie,
6 kyk dan weg van hom af, sodat hy kan ophou werk, totdat hy soos 'n dagloner tevrede is met sy dag.
7 Ja, vir 'n boom is daar hoop: As hy afgekap word, loop hy weer uit, sy jong lote hou nie op uitspruit nie.
8 Al word sy wortel oud in die grond, en al gaan sy stomp dood in die grond,
9 van die reuk van water spruit hy uit, maak hy lote soos 'n jong plant.
10 Maar 'n man sterf en is magteloos; 'n mens kom om en waar is hy dan?
11 Water verdwyn uit 'n see, en 'n rivier droog op en uitgedor;
12 so gaan 'n mens en staan nie weer op nie. Tot die hemel nie meer daar is nie, word hulle nie wakker nie, word hulle nie wakker gemaak uit hulle slaap nie.
13 “As U my maar in die •doderyk wou wegsteek, my verberg totdat u toorn bedaar het, 'n vasgestelde tyd vir my bepaal, en my dan onthou!
14 As 'n man sterf, sal hy weer leef? Al die dae van my dwangarbeid sou ek wag tot die einde van my skof.
15 U sou roep en ek, ek sou U antwoord; na u handewerk sou U verlang.
16 Alhoewel U nou my treë tel, sou U nie my sonde dophou nie.
17 Verseël in 'n sak sou my oortreding wees; U sou my sondeskuld toepleister.
18 “Maar 'n berg stort ineen en verkrummel, 'n rots verskuif uit sy plek;
19 water verweer selfs klippe, stortreën spoel die stof van die grond weg net so laat U 'n sterfling se hoop tot niet gaan.
20 U oorweldig hom vir altyd, en hy gaan heen; U verander sy gelaat en stuur hom weg.
21 Sy seuns word vereer, maar hy weet dit nie; hulle word verkleineer, maar hy merk dit nie op nie.
22 Sy liggaam ervaar egter pyn, en hy treur net oor homself.”