Job 13AFR20

1“Kyk, my oog het dit alles gesien; my oor het dit gehoor en begryp.

2Wat julle weet, weet ek ook; ek staan nie vir julle terug nie.

3Maar ek, met die Almagtige wil ek praat; die saak wil ek graag met God beredeneer.

4Julle is egter mense wat met leuens pleister, kwaksalwers, julle almal!

5As julle maar doodstil wou bly! Dit sou vir julle as wysheid geld.

6Luister asseblief na my pleidooi; op die aanklag van my lippe moet julle ag slaan.

7Wil julle namens God onregverdige argumente aanvoer, namens Hom bedrieglike argumente aanvoer?

8Wil julle partydig wees vir Hom, of namens God 'n regstryd voer?

9Sal dit goed afloop as Hy julle onder kruisverhoor neem? Of sal julle Hom mislei soos mens 'n sterfling mislei?

10Hy sal julle beslis teregwys as julle in die geheim partydig is.

11Sal sy majesteit julle nie ontstel nie, die vrees wat Hy inboesem, julle nie oorval nie?

12Julle stellings is spreuke in die stof; julle antwoorde word antwoorde van klei!

13“ Swyg voor my, laat ek 'n keer praat! Laat dan maar oor my kom wat wil.

14Om watter rede neem ek my eie vlees tussen my tande, en plaas ek my eie lewe in die palm van my hand?

15Kyk, Hy kan my doodmaak, maar ek gaan nie wag nie. Ek wil net my optrede in sy teenwoordigheid verdedig.

16Selfs dit sal vir my bevryding bied, want die godloses kom nie in sy teenwoordigheid nie.

17Luister aandagtig na my woorde, laat my uiteensetting in julle ore klink.

18Kyk tog, ek het die saak uiteengesit; ek weet dat ek die reg aan my kant het.

19Wie is die een wat geldige argumente teen my kan aanvoer? Want dan sou ek swyg en omkom.

20“Net twee dinge moet U my nie aandoen nie, dan sal ek vir u teenwoordigheid nie wegkruip nie:

21U hand, hou dit ver van my, en u verskrikking, laat dit my nie ontstel nie.

22Roep maar! Ek sal myself verdedig. Of, ek sal praat, en antwoord U my.

23Hoeveel sondeskuld en sondes het ek? My oortreding en my sonde, maak dit aan my bekend!

24Waarom verberg U u gesig en beskou U my as 'n vyand van U?

25Sal U 'n windverwaaide blaar verskrik, en 'n droë strooihalm agternasit?

26Ja, bitter dinge teken U teen my aan; die sondeskuld van my jeug maak U my erfdeel.

27U sit my voete in die blok; U hou al my bewegings dop; U plaas u merk op my voetsole.

28En so iemand, hy vergaan soos iets wat verrot, soos 'n kledingstuk wat die motte vreet.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Job 13.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.