Bible

Transform

Your Worship Experience with Great Ease

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Job 13

:
Afrikaans - AFR20
1 “Kyk, my oog het dit alles gesien; my oor het dit gehoor en begryp.
2 Wat julle weet, weet ek ook; ek staan nie vir julle terug nie.
3 Maar ek, met die Almagtige wil ek praat; die saak wil ek graag met God beredeneer.
4 Julle is egter mense wat met leuens pleister, kwaksalwers, julle almal!
5 As julle maar doodstil wou bly! Dit sou vir julle as wysheid geld.
6 Luister asseblief na my pleidooi; op die aanklag van my lippe moet julle ag slaan.
7 Wil julle namens God onregverdige argumente aanvoer, namens Hom bedrieglike argumente aanvoer?
8 Wil julle partydig wees vir Hom, of namens God 'n regstryd voer?
9 Sal dit goed afloop as Hy julle onder kruisverhoor neem? Of sal julle Hom mislei soos mens 'n sterfling mislei?
10 Hy sal julle beslis teregwys as julle in die geheim partydig is.
11 Sal sy majesteit julle nie ontstel nie, die vrees wat Hy inboesem, julle nie oorval nie?
12 Julle stellings is spreuke in die stof; julle antwoorde word antwoorde van klei!
13 Swyg voor my, laat ek 'n keer praat! Laat dan maar oor my kom wat wil.
14 Om watter rede neem ek my eie vlees tussen my tande, en plaas ek my eie lewe in die palm van my hand?
15 Kyk, Hy kan my doodmaak, maar ek gaan nie wag nie. Ek wil net my optrede in sy teenwoordigheid verdedig.
16 Selfs dit sal vir my bevryding bied, want die godloses kom nie in sy teenwoordigheid nie.
17 Luister aandagtig na my woorde, laat my uiteensetting in julle ore klink.
18 Kyk tog, ek het die saak uiteengesit; ek weet dat ek die reg aan my kant het.
19 Wie is die een wat geldige argumente teen my kan aanvoer? Want dan sou ek swyg en omkom.
20 “Net twee dinge moet U my nie aandoen nie, dan sal ek vir u teenwoordigheid nie wegkruip nie:
21 U hand, hou dit ver van my, en u verskrikking, laat dit my nie ontstel nie.
22 Roep maar! Ek sal myself verdedig. Of, ek sal praat, en antwoord U my.
23 Hoeveel sondeskuld en sondes het ek? My oortreding en my sonde, maak dit aan my bekend!
24 Waarom verberg U u gesig en beskou U my as 'n vyand van U?
25 Sal U 'n windverwaaide blaar verskrik, en 'n droë strooihalm agternasit?
26 Ja, bitter dinge teken U teen my aan; die sondeskuld van my jeug maak U my erfdeel.
27 U sit my voete in die blok; U hou al my bewegings dop; U plaas u merk op my voetsole.
28 En so iemand, hy vergaan soos iets wat verrot, soos 'n kledingstuk wat die motte vreet.