Job 12
1 Job het hierop gereageer en gesê:
2 “Ja, julle is inderdaad ware volksgenote; en saam met julle sterf die wysheid!
3 Ook ek het verstand, net soos julle. Ek staan nie vir julle terug nie; en by wie is hierdie dinge nie bekend nie?
4 'n Voorwerp van spot vir sy medemens, dit het ek geword. ‘Toe hy voortdurend na God geroep het, het Hy hom geantwoord!’ Dit is die gespot van 'n regverdige, iemand wat onberispelik optree.
5 ‘Vir 'n ramp is veragting gepas,’ is die mening van die selfversekerde, ‘'n stamp is gepas vir hulle wie se voete swik.’
6 Die tente van verwoesters staan rustig; en veiligheid heers vir hulle wat God uittart, vir hom in wie se hand God dit laat beland.
7 “Maar gaan vra gerus die diere – hulle sal jou leer, en die voëls van die hemel – hulle sal jou inlig.
8 Of gaan kla by die aarde, wat jou sal leer; die visse van die see sal jou vertel.
9 Wie onder hulle almal weet nie dat die hand van die Here dit gedoen het nie?
10 Dit is Hy in wie se hand die lewe is van alles wat leef, ook die asem van elke mens se liggaam.
11 Toets die oor nie woorde soos die tong kos proe nie?
12 Is daar by grysaards wysheid, en verseker 'n lang lewe insig?
13 By God is wysheid en krag; aan Hom behoort raad en insig.
14 Kyk, as Hy afbreek, word dit nie herbou nie; sluit Hy iemand toe, maak niemand oop nie.
15 Kyk, as Hy water terughou, droog dit op; laat Hy die water vry, verwoes dit die land.
16 By Hom is krag en sukses; aan Hom behoort wie dwaal en laat dwaal –
17 Hy wat raadgewers kaalvoet laat loop en van regters gekke maak.
18 Die boeie waarmee konings bind, maak Hy los, en bind 'n lendedoek om hulle heupe;
19 Hy wat priesters kaalvoet laat loop en gevestigde families tot 'n val bring;
20 wat betroubare raadgewers se spraak wegneem en oudstes van hulle oordeelsvermoë ontneem;
21 wat veragting uitstort oor vooraanstaandes, en die gordel van sterkes losmaak;
22 Hy wat diep geheime uit die donker blootlê, dit wat pikdonker is, na die lig bring;
23 wat nasies aansien gee en hulle tot niet maak, wat nasies laat uitbrei en hulle wegvoer;
24 wat die leiers van volke van die aarde se verstand wegneem, en hulle laat ronddwaal in 'n onherbergsame gebied sonder paaie.
25 Hulle tas rond in die donker sonder lig; en Hy laat hulle rondsteier soos dronkes.