Bible

Elevate

Your Sunday Morning Worship Service

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Job 10

:
Afrikaans - AFR20
1 “Ek walg van my lewe! Ek wil aan my klagte vrye teuels gee; uit die bitterheid van my siel wil ek praat.
2 Ek vir God, ‘Moet my nie skuldig verklaar nie! Lig my eers in waaroor U met my 'n regstryd voer.’
3 Vind U dit goed dat U verdruk, dat U die werk van u hande verwerp, maar oor die planne van goddeloses lig laat skyn?
4 Het U menslike oë; kyk U soos 'n sterfling kyk?
5 Is u lewensdae soos die dae van 'n sterfling, u jare soos die dae van 'n man,
6 dat U my sondeskuld naspeur, my sonde peil,
7 alhoewel U weet dat ek nie skuldig is nie, en dat daar niemand is wat uit u hand kan red nie?
8 U hande het my gevorm, my gemaak; maar U verdelg my geheel en al!
9 Dink tog daaraan dat U my soos klei gevorm het. Wil U my na die stof laat terugkeer?
10 Het U my nie soos melk uitgegiet, my tot kaas laat stol nie,
11 vel en vleis oor my getrek, en my bene en spiere aan mekaar gevleg nie?
12 Die lewe en troue liefde het U aan my gegee; U sorg het oor my gees die wag gehou.
13 Maar hierdie dinge het U in u hart versteek; ek weet dat U dít in gedagte gehad het:
14 As ek sondig, sou U my dophou; van my sondeskuld sou U my nie vryspreek nie.
15 As ek skuldig sou wees, wee my! En as ek gelyk sou hê, kan ek my kop nie lig nie versadig van skande en sat van my ellende.
16 As ek wel my kop lig soos 'n leeu jag U my, en toon weer u ontsagwekkende mag teen my.
17 U bring nuwe getuies teen my, U laat u verergdheid oor my toeneem; skofte van dwangarbeid word my opgelê.
18 Waarom het U my uit die baarmoeder laat gaan? Ek moes omgekom het, en geen oog moes my gesien het nie.
19 Ek sou dan wees asof ek glad nie bestaan het nie. Van die moederskoot moes ek na die graf geneem word.
20 Is my lewensdae nie min nie? Hou dan tog op! Laat my alleen, sodat ek 'n bietjie vrolik kan wees
21 voordat ek heengaan en nie weer terugkeer nie na 'n land van donkerte, ja, stikdonkerte,
22 'n land so duister soos die stikdonkerste duisternis, wanordelik, en waar die glans van lig soos duisternis is.”