Job 10AFR20

1“Ek walg van my lewe! Ek wil aan my klagte vrye teuels gee; uit die bitterheid van my siel wil ek praat.

2Ek sê vir God, ‘Moet my nie skuldig verklaar nie! Lig my eers in waaroor U met my 'n regstryd voer.’

3“ Vind U dit goed dat U verdruk, dat U die werk van u hande verwerp, maar oor die planne van goddeloses lig laat skyn?

4Het U menslike oë; kyk U soos 'n sterfling kyk?

5Is u lewensdae soos die dae van 'n sterfling, u jare soos die dae van 'n man,

6dat U my sondeskuld naspeur, my sonde peil,

7alhoewel U weet dat ek nie skuldig is nie, en dat daar niemand is wat uit u hand kan red nie?

8“ U hande het my gevorm, my gemaak; maar U verdelg my geheel en al!

9Dink tog daaraan dat U my soos klei gevorm het. Wil U my na die stof laat terugkeer?

10Het U my nie soos melk uitgegiet, my tot kaas laat stol nie,

11vel en vleis oor my getrek, en my bene en spiere aan mekaar gevleg nie?

12Die lewe en troue liefde het U aan my gegee; U sorg het oor my gees die wag gehou.

13Maar hierdie dinge het U in u hart versteek; ek weet dat U dít in gedagte gehad het:

14As ek sondig, sou U my dophou; van my sondeskuld sou U my nie vryspreek nie.

15As ek skuldig sou wees, wee my! En as ek gelyk sou hê, kan ek my kop nie lig nie – versadig van skande en sat van my ellende.

16As ek wel my kop lig – soos 'n leeu jag U my, en toon weer u ontsagwekkende mag teen my.

17U bring nuwe getuies teen my, U laat u verergdheid oor my toeneem; skofte van dwangarbeid word my opgelê.

18“ Waarom het U my uit die baarmoeder laat gaan? Ek moes omgekom het, en geen oog moes my gesien het nie.

19Ek sou dan wees asof ek glad nie bestaan het nie. Van die moederskoot moes ek na die graf geneem word.

20Is my lewensdae nie min nie? Hou dan tog op! Laat my alleen, sodat ek 'n bietjie vrolik kan wees

21voordat ek heengaan en nie weer terugkeer nie – na 'n land van donkerte, ja, stikdonkerte,

22'n land so duister soos die stikdonkerste duisternis, wanordelik, en waar die glans van lig soos duisternis is.”

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Job 10.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.