Jeremiah 5
1 “ Deurkruis die strate van Jerusalem; kyk tog rond en let op! Soek op haar pleine of julle iemand vind, of daar iemand is wat reg doen, wat na betroubaarheid soek; dan sal Ek haar vergewe.
2 Al sê hulle, ‘So waar as die Here leef’, sweer hulle tog vals.”
3 Here, u oë, is dit nie gerig op betroubaarheid nie? U het hulle geslaan, maar hulle het geen pyn gevoel nie. U het hulle verniel, maar hulle het geweier om teregwysing te aanvaar. Hulle het hulle gesigte harder gemaak as 'n rots; hulle het geweier om om te draai.
4 Ek het by myself gedink: Hulle is maar die armes; hulle is dom, want hulle ken nie die weg van die Here, die beslissings van hulle God nie.
5 Laat ek my na die belangrikes wend, met hulle praat, want hulle is mense wat die Here se weg en hulle God se beslissings ken. Maar gelyktydig het hulle die juk gebreek en die stroppe stukkend geruk.
6 Daarom trek 'n leeu uit die bos hulle plat, gaan 'n wolf hulle verniel. 'n Luiperd hou hulle dorpe dop; elkeen wat daar uitgaan, word verskeur. Want hulle oortredings is talryk, hulle afvalligheid is oorweldigend.
7 “ Om watter rede sou Ek jou vergewe? Jou kinders het My verlaat, en sweer by wat geen gode is nie. Ek het hulle versadig, maar hulle het egbreuk gepleeg, in 'n hoerhuis onderdak gevind.
8 Hulle het bronstige, paarlustige hingste geword; elkeen van hulle runnik vir die vrou van sy medemens.
9 Sou Ek daaroor nie rekenskap eis nie?” is die uitspraak van die Here. “Of sou Ek My nie wreek op 'n nasie soos dié nie?
10 “ Klim op haar terrasse en rig verwoesting aan, maar moet dit nie heeltemal vernietig nie. Verwyder haar hegranke, want dit is nie die Here s'n nie.
11 Ja, die huis van Israel en die huis van Juda het uiters verraderlik opgetree teenoor My,” is die uitspraak van die Here.
12 Hulle het die Here verloën; hulle het gesê: “Nie Hy nie! 'n Ramp sal nie oor ons kom nie; en swaard en hongersnood sal ons nie beleef nie.
13 Die profete sal wind word; die uitsprake van God is nie by hulle te vinde nie.” Mag dit met hulle so gaan!
14 Daarom, so sê die Here, die God van alle magte: “Omdat julle hierdie woord spreek – kyk, van my woorde in jou mond gaan Ek 'n vuur maak, en van hierdie volk brandhout. Dit sal hulle verteer.
15 Kyk, Ek gaan teen julle 'n nasie bring, van ver af, huis van Israel,” is die uitspraak van die Here. “Dit is 'n bestendige nasie, 'n nasie wat van oudsher af daar is, 'n nasie wie se taal jy nie ken nie, en jy sal nie verstaan wat hulle praat nie.
16 Hulle pylkokers is soos oop grafte; hulle is almal helde.
17 Dié nasie sal jou oes en jou brood verslind; hulle sal jou seuns en dogters verslind; hy sal jou kleinvee en beeste verslind; hy sal jou wingerd en vyebome verslind; hy sal jou versterkte stede waarop jy vertrou, verpletter met die swaard.
18 “ Maar ook in daardie dae,” is die uitspraak van die Here, “sal Ek julle nie heeltemal tot niet maak nie.
19 En as julle sou vra, ‘Waarom het die Here ons God al hierdie dinge aan ons gedoen?’ moet jy vir hulle sê, ‘Soos wat julle My verlaat het en vreemde gode in julle land gedien het, sal julle vreemdes dien in 'n land wat nie aan julle behoort nie.’
20 “Maak dit bekend in die huis van Jakob; en kondig dit aan in Juda,
21 ‘Luister tog hierna, dwase volk sonder verstand, wat oë het, maar nie sien nie, wat ore het, maar nie hoor nie!
22 Het julle nie ontsag vir My nie,’ ” is die uitspraak van die Here, “of krimp julle nie ineen voor My nie. Ek wat die sand gestel het as grens vir die see, as 'n ewige perk waaroor hy nie mag gaan nie? Al slaan sy golwe donderend neer, hulle rig niks uit nie; al druis hulle, hulle sal nie oor die grens gaan nie.
23 Maar hierdie volk het onversetlike harte en is opstandig. Hulle het afgewyk en weggegaan.
24 Hulle het nie by hulleself gedink nie, Ons moet tog ontsag hê vir die Here ons God, vir Hom wat reënbuie gee – vroeë en laatreëns, elkeen op sy tyd, vir Hom wat die vasgestelde weke van die oes vir ons in stand hou.
25 Julle sondeskuld het hierdie dinge versteur; julle sonde het die goeie van julle weggehou.
26 “Ja, daar is goddeloses wat hulle onder my volk bevind. Gebukkend loer hulle, asof in die skuiling van voëlvangers. Hulle stel wippe; mense, dié vang hulle.
27 Soos 'n mandjie vol voëls, so is hulle huise vol bedrog. Daarom het hulle belangrik en ryk geword.
28 Hulle het vet en blink geraak; hulle is ook onoortreflik met dade van boosheid. 'n Regseis waaroor hulle nie uitspraak lewer nie, is die regseis van 'n vaderlose kind, sodat hulle dit nie laat slaag nie. Oor die regsaak van behoeftiges gee hulle geen beslissing nie.
29 Sou Ek daaroor nie rekenskap eis nie?” is die uitspraak van die Here. “Of sou Ek My op 'n nasie soos hierdie nie wreek nie?
30 Iets skrikwekkends, iets afskuweliks gebeur in die land:
31 Die profete profeteer leuens, en die priesters skraap hande vol bymekaar. En my volk hou daarvan so! Wat meer sal julle nog doen?”