Jeremiah 4
1 “As jy dan omdraai, Israel,” is die uitspraak van die Here, “moet jy na My toe omdraai. As jy jou verfoeilike afgode verwyder uit my teenwoordigheid, sal jy nie langer rondswerf nie.
2 As jy sweer, ‘So waar as die Here leef’ – in trou, in reg en geregtigheid – sal nasies vir hulleself seën soek by Hom en hulle in Hom beroem. ”
3 Ja, so sê die Here vir die manne van Juda en Jerusalem: “Breek vir julle nuwe grond oop. Moenie tussen die dorings saai nie.
4 Besny julleself vir die Here; verwyder die voorhuid van julle harte, manne van Juda en inwoners van Jerusalem. Anders breek my woede los soos 'n vuur en brand sonder dat iemand dit blus, vanweë julle bose dade. ”
5 “ Bring berig in Juda! Kondig dit aan in Jerusalem, en sê, ‘Blaas •ramshorings in die land!’ Roep uit volle bors, en sê, ‘Kom bymekaar! Laat ons die versterkte stede binnegaan!’
6 Hou 'n banier omhoog in die rigting van Sion! Soek skuiling! Moenie stil staan nie! Want Ek bring onheil uit die noorde – 'n groot ineenstorting.”
7 'n Leeu het uit sy ruigte opgestaan, 'n verskeurder van volke is op pad. Hy het sy lêplek verlaat om van jou land 'n skrikbeeld te maak. Jou stede verval, is sonder inwoners.
8 Daarom, trek rouklere aan! Rou en huil! Want die brandende toorn van die Here is nie van ons afgewend nie.
9 “Op daardie dag,” is die uitspraak van die Here, “sal die koning en sy •hoë amptenare se moed hulle begewe. Die priesters sal geskok wees, die profete sal verslae staan.”
10 Toe het ek gesê: “Ag, Here, my Heer! Waarlik, U het hierdie volk en Jerusalem grootliks mislei deur te sê, ‘Julle sal vrede hê,’ terwyl die swaard op die keel lê.”
11 In daardie tyd sal vir hierdie volk en vir Jerusalem gesê word: “'n Versengende wind vanaf die kaal hoogtes in die woestyn is op pad na die dogter van my volk, maar nie om 'n oes uit te wan of te sif nie.
12 'n Wind, te sterk daarvoor, kom op My af. Op my beurt gaan Ek nou oordele oor hulle uitspreek.”
13 Kyk, soos wolke kom hy op, en soos 'n stormwind is sy strydwaens. Vinniger as arende is sy perde. “Wee ons, want ons word verwoes!”
14 “Spoel jou hart skoon van kwaad, Jerusalem, sodat jy gered kan word! Hoe lank gaan planne van onheil nog in jou midde vertoef?
15 Ja, 'n stem bring berig uit Dan, en kondig onheil aan vanaf die heuwelland van Efraim,
16 ‘Vertel dit vir die nasies! Kyk, verkondig dit aan Jerusalem! Bewakers kom uit 'n ver land; teen die stede van Juda roep hulle hardop uit.
17 Soos bewakers van landerye is hulle reg rondom haar, want teen My het sy in opstand gekom,’ ” is die uitspraak van die Here.
18 “Jou handel en wandel het jou dit aangedoen. Hierdie is die gevolg van jou boosheid! Ja, dit is bitter, want dit raak jou aan die hart.”
19 O, die pyn, die pyn in my binneste! Ek krimp ineen! O, die wande van my hart! My hart klop onstuimig in my! Ek kan nie swyg nie; want my •siel het ramshorings gehoor, ja, krygsgeskreeu!
20 Ineenstorting volg op ineenstorting, ja, die hele land word verwoes. Onverwags word my tente verwoes, binne 'n oomblik my tentdoeke.
21 Hoe lank sal ek nog die banier sien, die geluid van die ramshoring hoor?
22 “Ja, my volk is dom; Hulle ken My nie. Dwase kinders is hulle; hulle het nie insig nie. Slim om kwaad te doen, dit is hulle; maar om goed te doen, dit ken hulle nie.”
23 Ek het na die aarde gekyk, en kyk, dit was woes en leeg, ook na die hemel, en daar was geen lig nie!
24 Ek het na die berge gekyk, en kyk, hulle het geskud, en al die heuwels het gebewe!
25 Ek het gesien: Kyk, daar was geen mens nie, en al die voëls van die hemel het gevlug!
26 Ek het gesien: Kyk, die boord was 'n woestyn, en al die dorpe was afgebreek deur die Here se toedoen, vanweë sy brandende toorn!
27 Ja, so sê die Here: “'n Woesteny sal die hele land word, maar Ek sal dit nie heeltemal tot niet maak nie.
28 Hieroor sal die aarde treur, en die hemel daarbo verdonker. Ja, Ek het dit aangekondig; dit is my voorneme. Ek sal nie jammer wees nie, nie daarop terugkom nie. ”
29 Vir die geskreeu van strydwabemanning en boogskutters slaan elke dorp op die vlug. Hulle gaan die digte bosse in, op rotse klim hulle. Elke dorp is verlate; geen mens woon meer daarin nie.
30 En jy, verwoeste, wat gaan jy doen? Al klee jy jou in karmosyn, al tooi jy jou met juwele van goud, al laat jy jou oë groter lyk met grimering – tevergeefs maak jy jou mooi. Minnaars verag jou; dit is jou lewe wat hulle soek.
31 Ja, ek het 'n kreet gehoor soos van iemand in pyn – benoudheid soos van 'n vrou wat aan haar eersteling geboorte gee. Dit is die kreet van die dogter van Sion; sy snak na asem, sy strek haar hande uit: “Wee my! Ek is gedaan, my lewe behoort aan moordenaars!”