Jeremiah 6AFR20

1“ Soek skuiling, mense van Benjamin, weg van Jerusalem af; blaas selfs in Tekoa 'n •ramshoring! Stuur 'n rooksein op bokant Bet-Hakkêrêm! Want onheil doem op uit die noorde – 'n groot ineenstorting dreig.

2Die pragtige en fynbesnaarde, die dogter van Sion, vernietig Ek.

3Na haar toe sal herders kom met hulle kuddes. Op haar slaan hulle tente op, reg rondom. Elkeen bewei sy strook.”

4“ Heilig 'n oorlog teen haar! Maak gereed! Laat ons teen die middag opruk! Wee ons! Want die dag gaan verby – die aandskaduwees word lank.

5Maak gereed! Laat ons in die nag opruk; laat ons haar vestings verwoes!”

6Ja, so sê die Here, Heerser oor alle magte: “Kap bome af! Hoop 'n beleëringswal op teen Jerusalem – dít is die stad! Alles in haar is op bruikleen; daar is afgeperste goedere binne-in haar.

7Soos 'n put sy water vars hou, hou sy haar boosheid vars. ‘Geweld!’ en ‘Verdrukking!’ word in haar gehoor. Voor my oë is daar voortdurend lyding en verwonding.

8Aanvaar die teregwysing, Jerusalem; anders ruk Ek Myself van jou los; anders maak Ek jou 'n woesteny, 'n land wat nie bewoon word nie.”

9So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Soos met die naoes van 'n wingerdstok, sal hulle die oorblyfsel van Israel skoon afoes. Bring jou hand telkens terug na die lote soos een wat druiwe snoei!”

10Met wie moet ek praat? Wie moet ek as getuies roep, sodat hulle kan luister? Kyk, onbesnede is hulle ore, sodat hulle nie kan ag gee nie. Kyk, die woord van die Here het vir hulle 'n bespotting geword; hulle aanvaar dit nie.

11Ek is met die woede van die Here vervul; ek is moeg daarvan om my in te hou. “Stort dit uit oor kinders op straat, en tegelyk oor die groep jongmense. Ja, mans sowel as vroue sal gevange geneem word, oues saam met bejaardes.

12Hulle huise sal na ander oorgaan, hulle landerye en vroue daarmee saam. Want Ek steek my hand uit teen die inwoners van die land,” is die uitspraak van die Here.

13“ Ja, klein en groot maak almal onregverdige wins. Van profeet tot priester – hulle almal pleeg bedrog.

14Hulle wil die ineenstorting van die dogter van my volk op 'n maklike manier herstel deur te sê, ‘Vrede, vrede!’ Maar daar is geen vrede nie.

15Staan hulle beskaamd omdat hulle afstootlik opgetree het? Hulle skaam hulle hoegenaamd nie, ken selfs geen skaamte nie. Daarom sal hulle val onder die gesneuweldes; in die tyd wanneer Ek hulle tot verantwoording roep, sal hulle tot 'n val kom,” het die Here gesê.

16So sê die Here: “Gaan staan langs die paaie en kyk; vra na die weë uit die voortyd. Vra waar die pad na die goeie is, en volg dit! Vind so sielerus! Maar hulle het geantwoord, ‘Ons sal nie gaan nie.’

17Toe het Ek wagte oor julle aangestel, ‘Gee ag op die geluid van die ramshoring!’ Maar hulle het geantwoord, ‘Ons sal nie ag gee nie.’

18Daarom, luister, nasies! Neem kennis, volksvergadering, van wat met hulle gaan gebeur!

19Luister, land! Kyk, Ek gaan onheil bring oor hierdie volk – die vrug van hulle planne. Want op my woorde het hulle nie ag geslaan nie, en my wet, dit het hulle verwerp.

20Waarom nog vir My wierook uit Skeba laat kom, of kosbare kalmoes uit 'n ver land? Julle •brandoffers is nie aanvaarbaar nie, en julle •maaltydoffers geval My nie. ”

21Daarom, so sê die Here: “Kyk, Ek gaan voor hierdie volk struikelblokke lê waaroor hulle sal val – ouers en kinders saam; bure en vriende sal ten gronde gaan.”

22So sê die Here: “Kyk, 'n volk kom uit 'n land in die noorde; 'n groot nasie is wakker gemaak by die uithoeke van die aarde.

23Boog en kromswaard hou hulle gereed; harteloos is hulle, en genadeloos. Hulle klink soos die see wat dreun, op perde ry hulle; hulle is manne wat in 'n gevegslinie opgestel is teen jou, dogter van Sion.”

24Ons het die gerug oor hulle gehoor; ons moed het ons begewe. Benoudheid het ons beetgepak, angs soos wanneer 'n vrou geboorte gee.

25Moenie na die veld uitgaan nie! Op pad moet julle nie gaan nie! Ja, die vyand het 'n swaard; daar is verskrikking aan alle kante!

26Dogter van my volk, omgord jou met rouklere en rol in die as! Rou soos oor 'n enigste kind – 'n bittere roubeklag! Want onverwags kom die verwoester oor ons.

27“As toetser van silwer het Ek jou by my volk aangestel, as 'n versterkte stad, sodat jy hulle optrede kan ken en toets.

28Hulle is almal rebels, onversetlik – koper en yster! Hulle gaan rond as kwaadstokers. Hulle almal is ontaard.

29Die blaasbalk blaas; uit die vuur kom lood ongeskonde. Tevergeefs word daar aanhoudend gesmelt; die slegtes word nie afgeskei nie.

30‘Verworpe silwer’ word hulle genoem, want die Here het hulle verwerp.”

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Jeremiah 6.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.