1“Die regverdige gaan ten gronde, maar niemand neem dit ter harte nie. Getroue mense sterf, en daar is niemand wat insien dat dit as gevolg van onheil is dat die regverdige sterf nie –
2hy gaan die vrede binne. Hulle sal op hulle beddens rus, elkeen van hulle wat sy reguit pad loop.
3“Maar julle, kom nader hierheen, nakomelinge van haar wat voortekens lees, nageslag van haar wat egbreuk pleeg en gehoereer het!
4Met wie vermaak julle julleself? Oor wie het julle julle monde vol? Vir wie steek julle tong uit? Is julle nie 'n klomp oortreders, 'n geslag leuenaars nie –
5julle wat brand van begeerte by die terebintbome, onder elke skaduryke boom, wat kinders slag in die spruite, onder oorhangende rotse?
6By die gladde klippe in die spruit lê jou lotsbestemming; hulle, ja, hulle bepaal mos jou lot! Ook vir hulle giet jy •drankoffers uit, laat jy •graanoffers in rook opstyg. Sou Ek sulke mense jammer kry?
7Op 'n hoë, verhewe berg het jy jou bed geplaas, selfs daarheen opgeklim om •maaltydoffers te bring.
8Agter die deur en kosyn het jy jou simbole aangebring. Ja, van My af het jy weggegaan en opgeklim; jy het jou lêplek breed gemaak, en jouself gesny as jy sonder afgode was. Jy was lief vir hulle bed, na naaktheid het jy gestaar.
9Jy het voor die koning gebuig met olie; jy het baie geurige salf aangebied. Jy het jou boodskappers na ver plekke gestuur, hulle laat afdaal tot in die •doderyk.
10Van jou baie reise het jy moeg geword, maar jy het nie gesê, ‘Dit is tevergeefs’ nie. Lewenskrag het jy gevind; daarom het jy nie swak geword nie.
11“Vir wie was jy bevrees en het jy ontsag gekoester, dat jy telkens lieg, en nie aan My gedink het nie, My nie ernstig opgeneem het nie? Is dit omdat Ek stilgebly het, en dit vir 'n lang tyd? Vir My het jy nie ontsag gehad nie.
12Ek self gaan getuienis aflê oor jou geregtigheid. En jou dade – dit sal vir jou van geen nut wees nie.
13Wanneer jy om hulp roep, moet jou klomp afgode jou maar red! Hulle almal – die wind sal hulle oplig, 'n luggie sal hulle wegwaai. Maar wie by My skuil, sal die land as erfdeel ontvang en my heilige berg in besit neem. ”
14Hy sal sê: “Vul die holtes op, vul dit op! Maak 'n pad gereed! Verwyder struikelblokke uit die pad van my volk!”
15Ja, so sê Hy wat hoog en verhewe is, wat vir ewig woon, wie se Naam die Heilige is: “In die hoogte, in 'n heilige plek, woon Ek, en ook by hulle wat verpletter en nederig is, om die gees van nederiges te laat herleef, om die hart van verpletterdes te laat herleef.
16Want Ek sal nie vir altyd 'n regstryd voer, en nie vir ewig toornig wees nie. Want menslike geeste sal voor My wegkwyn, ook die lewensasems wat Ek self gemaak het.
17“ Oor die sondeskuld as gevolg van sy gierigheid het Ek toornig geword en hom geslaan, het Ek My verberg terwyl Ek toornig was. Maar hy het afvallig geword, die pad van sy hart geloop.
18Sy paaie het Ek gesien, maar Ek sal hom genees. Ek sal hom lei en hom met vertroosting vergoed. En vir hulle wat oor hom treur,
19gee Ek 'n loflied op die lippe. “Vrede, vrede, vir dié wat naby is en vir dié wat ver is,” sê die Here, “Ek sal hulle genees.”
20Die goddeloses is soos die onstuimige see. Ja, dit kan nie rustig wees nie, en sy waters spoel vullis en modder uit.
21“Daar is geen vrede vir die goddeloses nie,” sê my God.