1“Roep hard uit! Moenie terughou nie! Verhef jou stem soos 'n •ramshoring! Maak aan my volk hulle oortredings bekend, aan die huis van Jakob hulle sonde!
2Vir My raadpleeg hulle dag ná dag; kennis van My weë begeer hulle. Soos 'n nasie wat geregtigheid uitleef en nie afwyk van sy God se beslissings nie, vra hulle My oor regverdige beslissings; die nabyheid van God begeer hulle.
3‘Waarom vas ons, maar U sien dit nie raak nie, verootmoedig ons ons, maar U merk dit nie op nie?’ Kyk, op julle vasdag kry julle kans vir besigheid, en jaag julle al julle werknemers aan.
4Kyk, net om te twis en rusie te maak, vas julle, en om genadeloos met die vuis te slaan. Julle vas nie vandag om julle stem in die hoogte te laat hoor nie.
5Is die vas wat Ek verkies dan so, 'n dag van verootmoediging vir 'n mens? Is dit om die hoof te buig soos 'n biesie, en in sak en as te lê? Is dit wat julle vas noem? is dit 'n dag wat die Here se goedkeuring wegdra?
6Is dit nie hierdie vas wat Ek verkies nie, dat julle die boeie van goddeloosheid losmaak, die stroppe van die juk stukkend ruk, verdruktes vry wegstuur en elke juk breek?
7Is dit nie bedoel om vir hongeriges jou brood te breek, om aan magteloses en haweloses onderdak te bied nie? Wanneer jy iemand sien wat kaal is, moet jy hom bedek, en jou nie afsydig hou van jou eie vlees en bloed nie.”
8Dan sal jou lig deurbreek soos die oggendskemering; en jou herstel sal spoedig aanbreek. Jou geregtigheid sal jou vooruitloop; die heerlikheid van die Here sal jou agterhoede dek.
9Dan sal jy roep en die Here sal antwoord. Jy sal om hulp roep, en Hy sal sê: “Hier is Ek!” As jy die juk uit jou midde verwyder, die vingerwysery en verderflike gepraat,
10as jy hulle wat honger is, jou empatie laat ervaar, die mens wat verdruk word, versadig laat word, sal jou lig in die duisternis skyn; jou donkerte sal soos helder dag wees.
11Die Here sal jou voortdurend lei; in dor plekke sal Hy jou keel verkwik, jou gebeente sal Hy sterk maak. Jy sal soos 'n natgeleide tuin wees, soos 'n waterbron waarvan die water nie teleurstel nie.
12Sommige uit jou sal die oeroue puinhope herbou, die fondamente van geslagte gelede sal jy weer oprig. Jy sal genoem word: die een wat bresse toebou, die een wat paaie herstel, sodat mense daar kan woon.
13As jy jou voet terughou van die Sabbat, jou daarvan weerhou om te doen wat jy wil op my heilige dag, en die Sabbat 'n vreugde noem, eerbied toon vir dit wat heilig is vir die Here, die dag eer deur nie te doen wat jy gewoonlik doen nie, deur nie geleentheid te vind om jou besigheid te doen en 'n saketransaksie te bespreek nie,
14dan sal jy jou vreugde vind by die Here. “Ek sal jou laat ry op die hoogtes van die aarde. Ek sal jou die erfenis van jou vader Jakob laat geniet.” Ja, die mond van die Here het gespreek.